MBOMBELA – “Hoe kies jy ‘n kis vir jou kind?” Dit was die hartroerende vraag van mnr. Anton Lessing, pa van Leander Lessing (16) wat homself Maandagmiddag in die gesin se lapa opgehang het.
Die Lessings is verslae en probeer sin maak uit dié tragedie. Leander, ‘n gr. 10-leerling van Hoërskool Nelspruit, het nie ‘n nota gelos of enige tekens van depressie getoon nie. “Dis baie vreemd,” het sy ma, me. Zelna Lessing, Woensdag beaam.
Hy laat ook ‘n jonger boetie, Marnus (14) agter. Laevelder het net twee weke gelede oor dié kranige rugbyspeler berig wat ongelukkig nooit weer aan sy geliefde sport sal kan deelneem nie weens ‘n baie ernstige besering.
Anton het vertel dat hy die twee broers Maandagoggend by die skool gaan aflaai het. Leander het net die vorige aand van ‘n uitstappie na die wildtuin saam met vriende teruggekom en het vertel hoe lekker dit was en wat hy alles gedoen het.
“Leander het Maandagoggend opgemerk dat sy dag met wiskunde sou begin en met NW (natuurwetenskappe) sou eindig. Hy het bygevoeg dat dit bewolk was en dat hy koud gekry het. Ek het aan hom gesê: ‘Bulle, moenie dat dit jou onder kry nie. Vat hierdie dag en vat dit soos dit kom’.”
Leander het gelag en hy en Marnus het weggestap. Anton het nog tevrede opgemerk hoe sy twee seuns saamloop en was dankbaar dat hulle só ‘n goeie verhouding gehad het. “Hulle was onafskeidbaar,” het Zelna bygevoeg.
Marnus het gesê dat Leander pouse saam met sy maats gespeel het en baie gelukkig voorgekom het. Marnus word nou betrek by die rugbyspan se afrigting en het ná skool vir die oefening agtergebly. Leander het nog aan hom gesê dat hy alleen by die huis wou wees. “Dit was nie vreemd nie. Hy het dit baie gedoen. As sy boetie rugby geoefen het, het hy kliphard musiek in die lapa geluister,” het Anton vertel.
Zelna het Leander by die skool opgelaai en hulle het op pad huis toe oor normale goed gesels. Sy het omstreeks 16:30 weer gery om Marnus by die rugby-oefening te gaan oplaai. Hulle het by die huis gekom en Marnus het na sy ouboet geroep. Hy was nie in sy kamer nie en dis toé dat Marnus op hom in die lapa afgekom het waar hy aan ‘n ketting gehang het.
Zelna het Anton gebel en hy het hom na die huis gehaas. Hy het Leander losgemaak en mond-tot-mond asemhaling toegepas, maar vergeefs. “Dit was te laat. Hy was klaar weg,” het Anton bedroef opgemerk.
Verskeie paramedici is ook na die huis en het Leander dood verklaar. Die polisie het sy selfoon gevat, maar volgens vriende het hy hulle nog tot 14:30 daardie middag ge-WhatsApp en was die gesprekke normaal. Die foon is in sy slaapkamer gekry.
Laevelder het Anton gevra of hy vermoed dat sy seun dalk die slagoffer van die sogenaamde choking game was. Tieners eksperimenteer dikwels hiermee en wurg hulself om te kyk hoe lank dit vat voor hulle hul bewyssyn verloor. “Nee, ek dink nie so nie. Hulle speel gewoonlik die choking game met ‘n belt en Leander het ‘n ketting gebruik,” het Anton sy kop geskud. Zelna wonder tog of hy nie iets probeer het wat toe lelik skeef geloop het nie.
“Hy sou vandag (Woensdag) vir sy ID aansoek gedoen het. Hy het ‘n hart van goud gehad,” het Anton gesê. Zelna het vertel dat Leander al vir maats omgepraat het wat hul eie lewens wou neem. “Hy het altyd gesê: ‘Mamma, jy sê nooit jy is moeg vir die lewe nie’.”
Anton het bygevoeg: “Hy was die berader vir sy vriende. Hulle het altyd by hóm afgepak. Hy was warm, spontaan en liefdevol. Hy wou net altyd almal happy hou.” Marnus kry tans berading om die voorval te verwerk.
Dr. Louis Swanepoel, hoof van Hoërskool Nelspruit, het gesê dat die skool met groot hartseer kennis van sy afsterwe geneem het. “Leander was ‘n goed opgevoede en geliefde leerder en het ‘n pragtige skoolloopbaan gehad.
Anton onthou: “Nellies het eendag ‘n Vrydag afgekry omdat hulle die interhoër gewen het. Leander het ‘n uniform by ‘n vriend van hom in Hoërskool Bergvlam geleen en saam dié dag na sy skool gegaan. Hy het 100-persent skoolbesoek van gr. 1 af gehad.”
‘n Roudiens word vandag om 11:00 vir Leander vanuit die NG Moedergemeente gehou. Volgens Anton is die reaksie van die gemeenskap oorweldigend en die gesin bedank graag almal vir hulle oproepe, gebede, blomme en kos wat hulle laat aflewer het.
Verskeie vriende van Leander Lessing het op Facebook hulde aan hom gebring.
• Zane Olivier het geskryf: “Hey dino. Geen woorde. ‘n Paar foto’s en dan miskien videos en herinneringe! Ek stap hierdie pad elke tree saam jou! Jy’s nie alleen nie! My hart is so seer soos joune! “Dit was ‘n voorreg om Lielie se gunstellingversie saam met jou te kon lees uit sy Bybel! Ons kan net goeie goed van hom onthou want hy was legit! Dino ek is baie lief vir jou en ons gaan saam hierdeur kom! Jesus hou ons hand vas!”
• Mario Nel het ook geskryf: “Daar is nie genoeg woorde om die hartseer in ons vriendekring en in die Lessing-familie te beskryf nie, met die wete dat ons sulke goeie vriend, boetie en kind verloor het. Jesus het hierdie engel vir ons vir 16 jaar geleen en nou moet hy weer terug gaan. Ons gaan jou almal baie mis, my bud! Ek sal nooit vergeet hoe jy altyd kon lag tot jy nie asem kry nie, dan maak jy sommer dat ons saam jou lag tot die son sak.
“Ek weet nie regtig wat om te sê nie, maar ek is dankbaar vir jou vriendskap en dat jy altyd daar was vir my en my in twee minute die gelukkigste persoon op aarde kon maak. Jy is ‘n ster my vriend, ek hoop dat jy gelukkig is in liewe Jesus se arms. Vertel Hom grappies en maak Hom bietjie lag tot hy nie meer asem het nie.
“Ons almal dink aan tannie Zelna, oom Anton, Marnus, en Dean. Sal nooit vergeet die snaakse geluide wat jy maak en dan skeur jy jouself sommer daarvoor! Ons is almal baie lief vir jou en wens jy het dit nie gedoen nie, maar ook dankbaar vir die 16 jaar wat die Here jou vir ons geleen het – 16 jaar wat ons vir ons hele lewe lank sal onthou. Rus sag in vrede my vriend, love you buddy!”
• Lees die aanvanklike berig hier
