MBOMBELA – ‘n Kleuter het gister in ‘n swembad op die ou Duffey’s Spares & Metals-perseel verdrink.
‘n Woonhuis op die perseel staan nou al bykans twee maande leeg sedert die eienaars, Greg en Agnes Duffey, weggetrek het.
Laevelder het nog in Mei berig oor ‘n wrede aanval op die Duffey’s waartydens me. Duffey met ondermeer ‘n strykyster gebrand is. Die gesin was op die punt om te verhuis om plek te maak vir die groot ontwikkeling wat tans daar plaasvind, toe hulle geteiken is.
Hulle is intussen weg en werkers is besig om die erf op te ruim. Mnr. Jacques Ainslie van Hi-Tech Medical Services is gisteroggend na die toneel ontbied kort nadat die kleuter ontdek is.
Die kleuter, Shibalo Ndlovu (3) was glo ‘n kind van een van die werkers wat tans besig is om die perseel op te ruim.
Die pa het gedurende die oggend agtergekom dat sy kind weg is. Daar is na hom gesoek en hy is later onder op die bodem van die swembad opgemerk.
Shibalo is uit die water gehaal en kon nie bygebring word nie. Hy is op die toneel dood verklaar.
