Hard newsNewsNews

Bromponies na drie maande teruggevind

Die fietse word dikwels in vleilande weggesteek as hulle nie dadelik uit die dorp vervoer kan word nie.

‘n Gelukkige bromponie-eienaar het verlede week haar gesteelde motorfiets teruggekry, ongeveer drie maande nadat twee fietse uit haar erf gesteel is.

Nelspruit Post het in April berig hoe me. Mar-Louise van Tonder en haar vriendin me. Melandri Visser laat die aand by die huis aangekom en gevind het dat die hek nie gesluit was nie. Dit het hulle aan die bedagsaamheid van vriende wat kom kuier het toegeskryf, maar die volgende oggend was die twee bromponies weg.

Van Tonder het egter vertel dat iemand haar verlede week geskakel het nadat hy op Sell Swop se Facebook-blad gesien het dat twee motorfietse naby The Village SPAR in ‘n vlei naby haar huis gevind is.

Sy vertel dat sy eers gedink het dat dit al drie maande is sedert die voorval: “Wat is die kans dat dit een van my twee bromponies kon wees?”

Van Tonder het Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit, haar sekerheidsmaatskappy geskakel en wag nou vir die papierwerk om afgehandel te word sodat sy met haar blou bromponie herenig kan word.

“Dis effens moeiliker om jou eie gesteelde goed van die polisie af terug te kry,” het sy gesê. “Vir drie maande moes hy in stof en reën lê. Natuurlik werk die aansitter nie meer nie omdat iemand iets in forseer het en sy twee spieëltjies is afgebreek. Die drade is geknip en my spaar olie wat ek in die paneelkissie gehou het, is weg, maar ek het hom terug en dit is wat tel.”

Van Tonder het gesê sy beplan om hom weer reg te maak sodat hy weer “spesiaal voel”.

Die stad beleef tans weer ‘n vlaag diefstalle van alle motorfietsgroottes en soorte. Hi-Tech verduidelik dat die fietse dikwels in vleilande weggesteek word as hulle nie dadelik uit die dorp vervoer kan word nie.

Volgens mnr. Nico Grobler van Hi-Tech het hulle al motorfietse daar gevind wat so goed weggesteek was dat hulle dit amper gemis het. Hy het mense aangeraai om hul fietse so goed moontlik toe te sluit.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button