Hard newsNewsNews

Voertuig beland in vlei na ongeluk

'n Saak van roekelose en nalatige bestuur word na die voorval deur die polisie ondersoek.

‘n Kar het Woensdagoggend met sy bestuurder in die vlei langs Madibarylaan beland, nadat dit deur ‘n ander voertuig getref is. Dit was egter nie die direkte momentum van die botsing wat die kar daar laat beland het nie.

Twee ooggetuies het bevestig dat die twee voertuie eers tot stilstand gekom na die botsing. Volgens mnr. Johan Ferreira het hy by ‘n rooi verskeerslig op die kruising van Madibarylaan (R40) en Samora Machelrylaan (N4) gewag toe hy die ongeluk sien gebeur om ongeveer 08:15.

‘n Rooi Volkswagen Golf was op die N4 onderweg vanaf Halls se rigting en ‘n swart Toyota Yaris was in die teenoorgestelde rigting op pad. Die Toyota was besig om regs te draai in die rigting van Witrivier toe die aankomende Volkswagen hom links voor tref. Volgens Ferreira het nie een van die voertuie besonder vinnig gery nie.

“Daar was ‘n slag toe hulle bots en toe staan albei voertuie vir ‘n oomblik stil. Toe trek die Toyota skielik teen ‘n groot spoed weg, dat sy bande sommer gespin het. Hy het reguit in die spruit ingery oor die sypaadjie en gras,” het Ferreira vertel.

Hy sê hy weet nie of die bestuurder probeer wegjaag het, en of hy totaal beheer verloor het oor die kar nie en byvoorbeeld eerder die rem probeer trap het nie.

Me. Suzanne Pieterse het ook die ongeluk gesien maar onthou hierdie detail anders – sy is oortuig dat die voertuig baie stadig beweeg het. “Dit het gelyk asof die kar se wiele rol, asof the bestuurder te derumekaar is om te besef hy moet rem of die handbriek aansit,” het sy vertel.

Beide voertuie is ernstig beskadig, maar sovêr bekend het die insittendes nie ernstig seergekry nie. Kapt. Dawie Pretorius, Mbombela polisiewoordvoerder, het bevestig dat ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur deur die polisie ondersoek word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button