Wildevy sorg vir lekker modderpret
Elke deelnemer en sy medebestuurder het met hul passies en truuks die skare behoorlik met hul vernuf, of gebrek daaraan,vermaak.
BURGERSFORT – Daar is die afgelope naweek weer lekker gekuier by die immergewilde Wildevy 4×4-dag.
Van vroeg af het mense bymekaar gekom om deel te wees van dié nie-winsgewende organsasie-fees wat daargestel is deur manne uit die gemeenskap om fondse vir minderbevoorregtesin te samel. Dié 4×4-gesinsdag is slegs een van die projekte wat jaarliks aangebied word.
Die jaar het die Wildevy-manne behoorlik uit hul pad gegaan om te sorg dat daar baie pret vir die jongspan was terwyl pa die hindernisse aangedurf en ma deur die stalletjies gedwaal het.
Die helikopter was dié jaar weer ‘n wenner waar oud en jonk ‘n onvergeetlike lugvaartrit oor die plaas kon geniet
Gearon Lydenburg het ook ‘n boogskietkompetisie aangebied waarin baie pryse op die spel was.
Wat die jonges se harte egter vinniger laat klop het, was Wild Rides Amusements. Daar was van vroeg tot laat op verskeie karnavalritte gebaljaar.
Die Wildevy MTB-bergfietswedren het uitdagings aan sportgeesdriftiges in die 70km-, 35km-, 10km-resies gebied en daar was ‘n twee-kilometer prettrap vir kinders onder 12 jaar wat ook groot aftrek geniet het.
Die vermaaklikheidsverhoog het ook gedreun met kunstenaars soos Quinton Prinsloo, Zandré, Henri Alant en Handré.
Natuurlik was daar dié jaar ook geen tekort aan lekker kos nie. Die kosstalle het gesorg dat geen feesganger van honger kon kla nie. Die tradisionele show-stopper het ook die middag plaasgevind. Dis nou waar ‘n paar uitsoekvoetuie hul passies deur die modderbad geneem het.
Die fees groei jaarliks en is ‘n moet op die sosiale kalender. DieWildevy-manne wil graag almal wat die byeenkoms bygewoon het hartelik vir hul ondersteuning bedank. “Dit het hierdie dag, wat almal in die vallei en omgewing na uitgesien het, weer uitstekend te maak. Die deelnemers en toeskouers het van heinde en verre gekom om in die pret te kom deel.
Elke deelnemer en sy medebestuurder het met hul passies en truuks die skare behoorlik met hul vernuf, of gebrek daaraan,vermaak. Almal wil deel wees van die pret opwinding wees.”
Hulle meen dat die dag nie moontlik sou wees sonder die milde bydrae van die borge nie. “Die puntborge het hul weer goed van hul taak gekwyt en gesorg dat die opwinding by die punte vir die deelnemers deurgaans lekker was.”
Die Wildevy-manne het weer, soos gewoonlik, baie hard gewerk om die dag so suksesvol en seepglad as moontlik te laat verloop en dit sou nie moontlik sonder die onbaatsugtige dienste van die manne gewees het nie. “Ons beloning is die wete dat al ons harde werk die lewe vir ‘n minderbevoorregte so biedjie makliker gaan maak. Sonder die samewerking van die media, veral ons plaaslike koerante, Platinum Gazette, Panorama en Steelburger/Lydenburg Nuus wat jaarliks so vriendelik die berigte voor en na die Wildevy plaas, sou ons poging ook nie so suksesvol kon gewees het nie.”
