MBOMBELA – Daar is nie ‘n tegniese hoërskool in die Laeveld nie, maar dit gaan eersdaags verander. Hoërskool Bergvlam gaan van aanstaande jaar af die volledige tegnologielyn-vakpakette vir hul leerders aanbied.
Die skool het onlangs toestemming van die onderwysdeparte-ment verkry om siviele, meganiese en elektriese tegnologievakke aan te bied. Mnr. Org van den Berg, een van die skool se adjunkhoofde, verduidelik dat die gemeenskap ‘n behoefte daaraan het.
“Die doel is om die gemeenskap te dien want ons het ‘n tekort aan ambagsmanne. Dis ‘n kopseer om gekwalifiseerde vakmanne te kry om aan te stel.”
Die vakke is gemik op alle kinders wat ná skool in tegniese rigtings wil studeer of hulself daarin wil bekwaam.
“As jy in ‘n ingenieursrigting wil studeer, benodig jy ‘n sekere agtergrond, anders moet jy dit in jou eerste jaar opvang,” sê Van den Berg. “Dit sluit in meganiese rigtings soos motorwerktuigkunde. Daarvoor het leerders tegniese of gewone wiskunde nodig, nie wiskundige geletterdheid nie.”
Die skool benodig addisionele fondse vir die oprigting van die sentrums. Dít is deel van die vyfjaarplan waarvolgens die skool teen 2020 volledig toegerus sal wees met sy eie sentrums. Leerders sal ook opleiding in rekenaargesteunde teken en ontwerp (CAD), ‘n spesialisprogram, in skooltyd kan ontvang.
Boonop sal Lira Elektriese Kontrakteurs en Cleins Technical Training Centre (CTTC) albei betrokke in die praktiese opleiding van leerlinge wees.
Om self betrokke te raak of vir meer inligting, kontak Van den Berg by org@bergvlam.co.za
