Hard newsNewsNews

Jongman veg vir lewe na beenmurgoorplanting

Hy moes hierna nog 130 dae in die hospitaal bly om seker te maak sy liggaam verwerp nie die beenmurg nie. Sowat vyf weke later het hy egter 'n geweldige terugslag beleef toe hy die Adino-virus opgedoen het

HECTORSPRUIT – ‘n Jongman (19) veg om sy lewe in ‘n Gautengse hospitaal nadat hy, kort nadat hy ‘n suksesvolle beenmurgoorplanting ondergaan het, ‘n virus opgedoen het.

Hy ondergaan tans revolusionêre behandeling met ‘n sogenaamde skedule 21-medikasie wat nie deur die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad goedgekeur is nie en tans slegs hier beproef word.

Wynand Smith, ‘n oudleerling van Komatipoort Akademie,was verlede jaar Oktober besig met sy matriekeindeksamen toe hy toevallig met akute leukemie (bloedkanker) gediagnoseer is. Sy tannie, Adri Stols, het vertel dat hy ‘n steekpyn in sy sy ontwikkel het. Hoewel sy nie die presiese datums kon onthou nie, het sy vertel dat hy op ‘n Maandag dokter toe is en met ‘n blindederm-infeksie gediagnoseer is. Dit is dieselfde dag in Mediclinic Nelspruit verwyder.

“Hy was die volgende dag weer terug by die skool om nog ‘n vraestel te voltooi. Die dokter het egter aan sy ma gesê dat sy bloed nie reg lyk nie en dat hy dit graag wou laat toets. Daardie dag het ons die skokkende nuus gekry dat Wynand leukemie het en dadelik na Pretoria-Oos Hospitaal moes gaan vir behandeling,” het Adri vertel.

Hy het die volgende dag al met chemoterapie begin. Hy is einde Januarie ontslaan en kon terugkeer huis toe, maar moes gereeld na Gauteng reis om nog chemoterapie te ontvang.

‘n Geskikte beenmurgskenker is in Poland opgespoor en Wynand het op 8 Junie ‘n suksesvolle oorplanting ondergaan. Hy moes hierna nog 130 dae in die hospitaal bly om seker te maak sy liggaam verwerp nie die beenmurg nie. Sowat vyf weke later het hy egter ‘n geweldige terugslag beleef toe hy die Adino-virus opgedoen het. “Dit is eintlik ‘n redelike skadelose virus, maar omdat Wynand se immuniteit so laag is, is hy baie siek,” het Adri verduidelik.

Hy het die virus by die hospitaal opgedoen. “Sy ma het hom in die weke na die oorplanting gereeld na buite geneem vir ‘n bietjie sonskyn. Hy het ook baie besoekers ontvang en ons vermoed hy het dit só opgedoen ” het Adri gesê.

Die virus tas sy lewer en niere aan en hy moet vier behandelings met die skedule-21 middel ondergaan. Een buisie kos R14 750 en hy moet vier daarvan kry. Die totale kostes beloop dus R59 000 en hoewel hy aan ‘n mediese fonds behoort, betaal dit nie vir dié behandeling nie omdat dit nog nie in Suid-Afrika goedgekeur is nie. Wynand se ouers het intussen ook gehoor dat hy medisyne moet gebruik om sy bloedplasma te vervang. Een só ‘n behandeling kos R29 000 en hy moet vir die volgende vier weke elke week hiermee behandel word.

Sy ouers het verlede week ‘n vrywaringsvorm geteken waarin hulle onderneem het om vir die skedule-21- en plasmamedikasie te betaal en Wynand het toe die Donderdag met behandeling begin. Teen Woensdag hierdie week kon hulle egter nog geen verbetering by hom waarneem nie. “Die dokters het verduidelik dat dit tot agt dae kan neem voordat ons ‘n verskil sal sien.”

Wynand is intussen onder verdowing geplaas sodat sy liggaam nie soveel spanning hoef te verduur nie en hy is ook aan ‘n ventilator gekoppel. Sy toestand is kritiek, maar stabiel.

Sy ma, Rina Smit, waak dag en nag langs sy bed. Sy en haar man, Jumbo Smit, bedryf Rebombo Plant Hire op Hectorspruit. Wynand het ook ‘n broer, Rijon Smit.

‘n Sogenaamde Pro-Bond Trust is gestig waarin mense skenkings kan betaal wat vir Wynand se mediese onkostes aangewend sal word. Diegene wat ‘n bydrae wil maak, kan dit doen by Van Rensburg Attorneys; J Van Rensburg Trustrekening; Rekeningno. 231-090-722; Standard Bank; Takkode: 053-252 (Malalane); Verwysing: Smit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button