
MBOMBELA – Die prokureursorde van die noordelike provinsies neem al 11 maande om ‘n klag teen ‘n prokureur van die stad te ondersoek.
Volgens dokumentasie, wat in die koerant se besit is, het mnr. Richard Spoor op 4 September aan die orde geskryf om hulle te verwittig van aantygings teen sy kollega, mnr. Johan du Preez. Spoor se kliënt, me. Jacoba Marais, het aangevoer dat sy op regsadvies van Du Preez, aandele wat sy na haar man se dood geërf het, vir baie minder as wat dit glo werd was, verkoop het.
Du Preez voer weer in dokumente aan dat dié aantygings van alle waarheid ontbloot is. Tog het Marais ‘n siviele eis teen hom ingestel en hom by die orde gaan verkla.
Volgens me. Jolo Herholdt, ‘n amptenaar in die dissiplinêre afdeling van die orde, kry hulle ongelukkig soveel klagtes dat ondersoeke soms lank duur. Tog het hulle in hierdie geval besluit om die ondersoek op ys te sit totdat die siviele eis afgehandel is.
Sy verduidelik dat, na alle betrokke partye die geleentheid gehad het om die orde van hul geskrewe betoë te voorsien, die saak voor ‘n ondersoekkomitee gedien het.
In terme van wetgewing mag die orde ‘n navraag uitstel as die klag ook die onderwerp van ‘n siviele of kriminele hofgeding is of waarskynlik een kan word – tot só ‘n geding afgehandel is.
Herholdt het gesê: “Die rede vir die besluit is om te verseker dat, wanneer die saak voor die hof kom, geen van die partye bevooroordeel sal word as ‘n resultaat van ‘n dissiplinêre ondersoek nie.”
Spoor het gesê dit is verkeerd: “Ernstige aantygings van onetiese gedrag word gemaak en dit moet in die openbare belang ondersoek word.
“Ek dink daar is ‘n traagheid aan die kant van die professie om prokureurs aanspreeklik te hou.”
Du Preez wou nie op die aangeleentheid kommentaar lewer nie.
