MBOMBELA – Na mnr. Derek Poole die afgelope ses weke drie hofverskynings in drie verskillende howe misgeloop het, is die man soek.
Poole word in Mbombela, Hazyview en Sandton van bedrog aangekla. In Mbombela staar hy ook ‘n klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer in die gesig.
Lasbriewe vir sy inhegtenisname is uitgereik, maar niemand weet waar hy is nie.
Daar was ‘n vermoede dat hy in Durban woon, nadat hy in ‘n kombi met handelsmerke van ‘n maatskappy daar opgemerk is. Die eienaar van die voertuig het egter verduidelik dat Poole nooit vir hom gewerk het nie, maar die kombi in April en Mei by hom gehuur het.
Poole het egter glo nie die ooreengekome huurbedrag betaal nie en die kombi teruggegee. Dit was die laaste keer wat hy gesien is. Volgens ander klaers wat na hom op soek is, is hy ook nie op enige van sy bekende selfoonnommers beskikbaar nie en die koerant kon hom ook nie in die hande kry nie.
Sy vorige verhuurder voer aan dat hy oproepe van banke ontvang wat ook nie in aanraking met Poole kan kom nie.
