
Na amper meer as twee maande wat Nelspruit Post oor die plakkers in Ehmkestraat berig, het die DA nou besluit genoeg is genoeg.
Mnr. Werner le Grange, DA raadslid, het die munispaliteit van Mbombela reeds vele kere oor die situasie gekontak, maar dit het op dowe ore geval. Hy het op ‘n petisie besluit en 187 mense in die area het dit tot dusver reeds onderteken.
“Dit gaan nie meer net oor die plakkers nie, maar oor al die rommel wat nou al tot by die busstop strek,” sê hy. Le Grange beplan om die petisie reeds hierdie week aan die uitvoerende burgemeester, mnr. SP Mathonsi, te oorhandig. By die volgende raadsvergadering sal die probleem ook eerste op die DA se lys wees. Volgens Le Grange was daar verlede week ‘n veldbrand in die parkie as gevolg van al die rommel. “Hierdie is ‘n baie groot probleem,” sê hy. Nie net word ‘n snoepwinkels en skoenmaker onwettig bedryf nie, maar die rommel is ondraaglik vir die inwoners.
Nelspruit Post het weer vir mnr. Jospeh Ngala, woorvoerder vir Mbombela, gekontak waarop hy geantwoord het dat hulle die saak sal ondersoek.
