Hard newsNewsNews

Plaaslike sakevroue maak skoonskip by toekennings

Drie van hulle het tydens die provinsiale uitdunne vir die Sakevrou van die Jaar in eMahlaleni met die louere weggestap deurdat hulle as provinsiale wenners in al drie die onderskeie kategorieë aangewys is

MBOMBELA – Vroue word hierdie maand vereer en lede van die plaaslike tak van die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue het Vrydagaand gewys waarom die skoner geslag nooit onderskat moet word nie.

Drie van hulle het tydens die provinsiale uitdunne vir die Sakevrou van die Jaar in eMahlaleni met die louere weggestap deurdat hulle as provinsiale wenners in al drie die onderskeie kategorieë aangewys is.

Maria Scholtz, hoof van volhoubaarheid by KANSA, het in die korporatiewe afdeling as wenner uit die stryd getree; Rolene Schoonraad, ‘n fisioterapeut, is as die wenner in die professionele afdeling gekroon en Daphne van Heerden van Willco Training is as die provinsie se beste entrepreneur aangewys.

Mario Scholtz – wenner van die korporatiewe afdeling

“Dit is ‘n baie groot erkenning aan my as individu, maar ook aan KANSA. Vir ‘n nie-regeringsorganisasie om erkenning in die korporatiewe sektor te kry, is ‘n bewys dat KANSA aanpas by korporatiewe vereistes.”

Scholtz sê dat dit baie moed geverg het om vir hierdie kategorie in te skryf, omdat sy eerstens die organisasie verteenwoordig het en ook haarself as bestuurder van volhoubare inkomste.

Sy het verduidelik dat dit volhoubare dienslewering verseker en hierdie toekenning wys dat KANSA ‘n besliste verskil in ons gemeenskappe en die korporatiewe sektor maak.

Rolene Schoonraad – wenner van die professionele afdeling

Sy het by navraag gesê dat die toekenning vir haar ‘n groot eer is. “As ‘n fisioterapeut is my fokus altyd op my pasiënte se welstand en behandeling. My praktyk streef daarna om elke pasiënt met empatie en omgee te behandel, maar steeds professioneel te bly en klinies-relevante tegnieke te gebruik om kwaliteitbehandeling te gee. Dié toekenning beteken dat ek in my doel slaag om my praktyk in dié rigting te stuur,” het sy gesê.

Schoonraad skryf eerstens haar sukses toe aan die Hemelse Vader, “want sonder Hom sal my hande nie kan aanraak nie. Ek het ook ‘n wonderlike man en dogtertjie wat weet wat my werk behels en my met liefde ondersteun; asook my kollegas en personeel by die werk wat ‘n vriendelike en hartlike omgewing skep om in te werk, te groei en te leer.”

Schoonraad het bygevoeg haar dryfkrag lê in haar behoefte om aan te hou leer. Sy daag haarself uit met kursusse wat haar kennis uitbrei en sy motiveer ook deurlopend haar kollegas en personeel om meer te leer en die beste fisioterapeute te word wat hul kan.

“Vir die sakevrou daarbuite: glo in jouself en jou vermoëns. Jy kán ‘n verskil maak. As jy ‘n droom het, droom groot en doen dit voluit. Maar onthou om getrou aan jouself te bly.”

Daphne van Heerden – beste provinsiale entrepreneur

Van Heerden meen dit is ‘n baie gesogte toekenning. “Die beoordelingsproses was rof en uitdagend, maar ek is blootgestel aan uitstekende vroue van wie ek baie kon leer,” het sy gesê.

Sy skryf haar sukses toe aan harde werk, toewyding, ‘n passie vir haar onderneming en haar waardes en beginsels. Haar raad aan ander vroue is om in hulself te glo en raad te vra by ander suksesvolle sakemanne en/of -vroue. “Jaag jou droom na met passie.”

• Nasionale wenners sal tydens die gala-aand van die raad se nasionale kongres op 13 September in Pretoria aangekondig word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button