
‘n Plaaslike inwoner het die naweek weer die slagoffer van kaardkloners geword.
Die vrou wat nie genoem wou word nie maar met Nelspruit Post gepraat het om ander mense te waarsku, het vertel dat sy ‘n paar jaar gelede ook deur kaartkloners beroof is. Die jongste voorval het Saterdag by die Standard Bank-kitsteller in I’langa Mall plaasgevind.
“Daar is drie tellers. ‘n Man wat baie netjies aangetrek was, het lank by die teller voor my getalm. Toe dit my beurt word, wou die kaart nie lekker werk nie. Die man het my probeer help. Ek het hom heeltyd van my af probeer wegstoot, maar hy was al tussenin. Hy het gesê ek sukkel en hy wil my help. Hy het baie goeie maniere gehad.
“Toe druk hy die kanselleer-knoppie maar die kaart het nie uitgekom nie. Niks het gebeur nie en hy het sy loop gekry. Al die mense rondom ons het ook verdwyn. Metteryd het ek by die bank aangeklop maar dit was net voor toemaaktyd. Ek het nie toe gedink dat die kaart moontlik gekloon is nie.
“Ek het die kaart telefonies probeer kanselleer, maar die geraas in die winkelsentrum was te veel, ek kon niks hoor nie. Toe ry ek huis toe, en terwyl ek bestuur het sms-kennisgewings op my selfoon deurgekom.”
Dit het gewys daar is ‘n paar duisend rand by ‘n sportwinkel by I’langa op haar kaart spandeer. Later was daar ook kennisgewings van aankope wat by Westend-winkelsentrum gedoen is. Sy skat dat sy ongeveer R15 000 uit die sak gejaag is.
Die vrou het die kaart gekanselleer, en Standard Bank se bedrogafdeling ondersoek die saak. Sy vertel dat toe sy in 2009 ook die slagoffer van kaartkloning was, die sindikaatlede tronk toe gestuur is.
Sy wou mense verder waarsku teen die man wat ongeveer 165cm (5’5”) lank en van gemiddelde bou was. Hy het gladde gelaatstrekke gehad, was goed gemanierd en goed geklee.
