
LYDENBURG – ‘n Tweede luiperd wat onlangs beseer is toe dit in ‘n strik beland het, het weggekom voordat roofdierdeskundiges van Mpumalanga Toerisme en Parke-agentskap (MTPA ) die dier kon bevry.
‘n Soektog na die dier word vandag voorgesit.
Die voorval gister volg kort op ‘n vorige een waartydens ‘n jong luiperdmannetjie ernstige snywonde aan sy bors opgedoen het toe dit in ‘n draadstrik op die landgoed Coromandel suidwes van die dorp verstengel geraak het.
Kinders wat visgevang het, het die dier aangetref en die owerhede in kennis gestel.
Die dier is deur twee veeartse op Lydenburg behandel en sterk tans aan by ‘n rehabilitasiesentrum vir roofdiere op Middelburg.
Mense wat draad gespan het op ‘n plaas naby Caspersnek by Ohrigstad het laat weet van die tweede jagluiperd wat vassit. Volgens aanvanklike berigte het die dier ook ernstige beserings opgdoen.
Steelburger het onmiddellik saam met mnr. Gerrie Comacho, roofdierdeskundige van die MTPA na die toneel gehaas. Met hulle aankoms op die toneel het die dier egter reeds losgebreek en in die bosse verdwyn.
Die hulp van ‘n jagter wat op ‘n naburige plaas gejag het is ingeroep om op die uitkyk te wees vir die beseerde dier.
Comacho is juis enkele jare in ‘n soorgelyke voorval deur ‘n beseerde jagliuperd aangeval. Die soektof is later afgelas weens die gevaarlike en ruig terrein.
Jaghonde gaan vandag ingespan word om na die dier te soek. Comacho sê te oordeel aan die bytmerke aan die boom waaraan die strik vas was, is dit ‘n ouerige mannetjie waarvan die tande reeds begin stomp word het. In sy worsteling het hy die jong boompie uit die grond getrek.
“Ons vermoed egter dat hy ook inwendig seergerky het,” het Comacho op die toneel gesê. Daar het hare van die luiperd aan die boompie vasgesit en dit is geneem vir DNS toetse.
Intussen berig Comacho dat die ander luiperd goed aan die herstel is en dat dit nie nodig sal wees om hom van kant te maak nie.
‘n Veearts wat hom vroeër vandag in Middelburg besoek het gesê “dit lyk of dit goed gaan”.
Die dier word noukeurig dopgehou en sal eers weer in die natuur vrygelaat word wanneer hy volkome van sy wonde herstel het.
