Editor's choiceLocal newsNewsNews

Beseerde luiperdmannetjie waarskynlik buite gevaar

Terwyl Steelburger/Lydenburg Nuus 'n onderhoud met Comacho gevoer het, is ‘n tweede voorval waar ‘n luiperd in ‘n strik gevang is, ook in ‘n rivierloop, net buite Ohrigstad op ‘n plaas aangemeld. Die koerant was op die toneel, maar die soektog is later die middag afgelas weens die gevaarlike en ruig terrein.

LYDENBURG – ‘n Jong luiperdmannetjie wat twee weke gelede in ‘n strik op ‘n plaas buite Lydenburg gevang is, se lewe is waarskynlik buite gevaar. Mnr. Gerrie Comacho, roofdierwetenskaplike van die Mpumalanga Toerisme en Parkeraad Agentskap (MTPA), het Dinsdagoggend bevestig dat hy nie van kant gemaak gaan word nie, nadat ernstige kommer oor sy toestand geheers het. Volgens Comacho het mnr. Ferreira du Toit, ‘n veearts van die MTPA, die luiperd Dinsdagmiddag by die Ubhetyan Rehabilitasiesentrum buite Middelburg besoek en gesê dat dit lyk of dit “goed gaan” met hom. “Die wonde is skoongemaak en nuwe steke is ingesit, maar die luiperd sal steeds noukeurig gemonitor word,” het Comacho gesê. ‘n Opvolg besoek word reeds beplan.

Die luiperd, vemoedelik tussen die ouderdom van vier en vyf, is uit ‘n strik op die Coromandel-gemeenskapsplaas buite Lydenburg gered, nadat twee seuntjies by ‘n nabygeleë rivier visgevang het en iets in die rivierloop opgemerk het. Die MTPA is onmiddellik ontbied sowel as veeartse van die Lydenburg Dierespreekkamers. Volgens dr. Wilmar Trümpelmann is die dier wat in ‘n kabelstrik om sy borskas gevang is, gepyl en na die spreekkamers geneem. “Ons was ongeveer twee en ‘n half uur besig om die wonde te ontsmet, spiere te heg en dooie weefsel weg te sny. Die kabel het deur al sy spiere gesny en die luiperd het ernstige vel- en spierwonde opgedoen.”

Comacho sê daar is ‘n drastiese toename in strikke en dit word hoofsaaklik deur plaaslike mense gestel. Hy meen die rede hiervoor is veelvuldig, maar word hoofsaaklik deur die behoefte aan vleis sowel as die kommersiële vangs en verkoop van diere gedryf en daar is ‘n toenemende aanvraag vir diereledemate in die mutibedryf. “Strikke word soms ook deur moedelose boere gestel wanneer dié roofdiere hul vee vang,” sê Comacho. Hy meen egter dat die opdeling en ontwikkeling van kleiner wildsplase ‘n groot rede hiervoor is wat ‘n lokval vir luiperds skep weens die feit dat ‘n “voerkraal” vir die dier geskep word. “Dit is ‘n mensgemaakte situasie.” Hy verduidelik dat habitatgeskiktheid ‘n belangrike faktor is waarmee daar rekenskap gehou moet word. Hy sê dit is veral weens die verandering wat deur mense aangebring word wat veroorsaak dat daar groter druk op diere geplaas word om spesifieke roetes te gebruik wat rivierlope insluit. Volgens Comacho is rivierlope dus ‘n tipiese plek waar luiperds in strikke gevang sal word.

Of luiperdgetalle oor die afgelope paar jaar toegeneem het, is betwisbaar meen hy. “Die feit dat luiperds meer gesien word, kan moontlik aan die toenemende informele nedersettings wat ontstaan, toegeskryf word en dus meer voete per hektaar tot gevolg het. “Die kans is vandag soveel groter dat luiperds raakgesien sal word, juis weens die toemende bevolkingsdigtheid.” Dit blyk verder of die lewensduur van luiperds ook drasties besig is om af te neem. Comacho sê dat daar selde ou diere op kameras gesien word wat ‘n kommerwekkende prentjie vir die luiperdpopulasie skets. “Ons sien gereeld op die kameras jong luiperds, maar ou diere sien ons nie meer nie.”

Hy sê dat die samewerking tussen grondeienaars van kardinale belang is om hierdie kommerwekkende kwessie onder beheer te bring. “Daar is nie meer staatsmannekrag om dit te hanteer soos voorheen nie. Gevalle soos hierdie verhoog by die dag, maar die mense wat hulp verleen, word al hoe minder”. “Daar is baie nuwe aankopers van grond wat óf die omgewing verstaan, óf hul eie kultuur wat in teenstryd met die bestaande kultuur is, inbring.”

Terwyl Steelburger/Lydenburg Nuus ‘n onderhoud met Comacho gevoer het, is ‘n tweede voorval waar ‘n luiperd in ‘n strik gevang is, ook in ‘n rivierloop, net buite Ohrigstad op ‘n plaas aangemeld. Die koerant was op die toneel, maar die soektog is later die middag afgelas weens die gevaarlike en ruig terrein. Die luiperd het vermoedelik losgebreek en die hulp van jaghonde is vanoggend (Dinsdag) ingeroep om met die soektog voort te gaan. Volgens Comacho blyk dit of dit ‘n groot mannetjie is wat waarskynlik ouerig is. “Die bytmerke aan die boom wat deur die mannetjie uit die grond getrek is, toon dat hy stomperige tande gehad het. Ons vermoed egter dat hy ook inwendig seergerky het,” het Comacho gesê. Die stomp wat hare van die luiperd bevat, is na die MTPA vir DNS-toetse geneem.

Daar het oor die afgelope tydperk reeds vyf luiperds in strikke gevrek.

Indien voorvalle soos hierdie voorkom, kan Comacho by 082-535-9097 geskakel word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button