FeaturesHard newsInnibos NuusLifestyleNewsNews

Sanger skryf oor vloermoer ná hy val Innibos

Ons kan nie verantwoordelikheid aanvaar vir hierdie voorval nie. Die verhoog, wat die trappe insluit, is voor die fees ondersoek en deur 'n ingenieur goedgekeur en as veilig afgeteken

MBOMBELA – ‘n Sanger wat by Innibos opgetree en geval het toe hy die verhoog verlaat het, hou nou die feesbestuur aanspreeklik vir die skade wat hy gely het.

Hoewel Innibos empatie met hom het, voel hulle ook dat hy self verantwoordelik is vir die penarie waarin hy hom nou bevind.

Die afgelope fees se tema was hoeka dat alles moontlik is tydens Innibos en dit was dan ook die eerste keer in die fees se elf bestaansjare dat ‘n sanger op die feesterrein geval het en beseer is.

Anton Botha het tydens die eerste dag van die fees op die Hit Record Factory-verhoog opgetree. Volgens ‘n skrywe van hom aan Innibos, het hy ongeveer 14:45 daardie Woensdag by Jennifer Zamudio, die verhoogbestuurder, aangemeld. “Ek was opgewonde om deel van die fees te wees en soos altyd my vertoning tot die beste van my vermoë te doen,” het hy geskryf.

Hy en sy orkes was besig om hulle instrumente op die verhoog staan te maak en hy het met twee kitare die verhoog betree. “Ek het twee keer teen die trappe uitgeklim om my toerusting bo te kry. Ek het opgemerk dat dit twee stelle trappe was wat teen mekaar geplaas is. Daar was dus ‘n metaalstrook in die middel van die trappe van ongeveer 10 sentimeter. Daar was ‘n handreëling aan die linkerkant van die trappe. Die trappe was baie steil en kort op mekaar,” het hy geskryf.

Hy het ná sy vertoning by die trappies afgestap, weer met ‘n kitaar in elke hand. “My PRS Stripped 58 in my linkerhand en my Gibson SJ 200 in my regterhand. Rochelle (wat vir hom baskitaar speel) het voor my teen die trappe afgegaan.
Toe ek met my linkervoet op die tweede trap van bo af trap, het my voet van die trap af gegly en het ek op my linkerboud eerste teen die trappe afgeval. Ek het dadelik na my PRS gekyk en gesien dat die kitaar baie sleg beskadig was.”

Anton het sy skrywe vervolg deur te meld dat hy baie kwaad was en gevloek het. “Die kitaar was nog splinternuut, ek het dit eers einde Februarie gekoop en betaal nog steeds daaraan af.

“Jennifer het weer gevra of ek okay is en het gesê dat ‘n paar mense besorgd was oor die trappe wat so steil is. Steyn Fourie het glo net die vorige dag vermeld dat die trappe nie reg was nie. Ek het my kitare gebêre en is daar weg.”

Anton het twee uur later ‘n lam gevoel aan die linkerkant van sy lyf ontwikkel. “My linkerhand het opgeswel en ek kon nie my hand heeltemal toemaak nie. My rug was baie seer en ek het al hoe moeiliker begin loop. Ek is vroeg na ons verblyf toe en het vroeg gaan lê. My rug was baie seer en ek kon nie my lê kry nie,” het hy geskryf.

“Ek is die volgende oggend na ‘n apteek en die apteker het my verwys na ‘n 24-uur kliniek. By Holt&Partners is ek deur die dokter ondersoek en hy het gesê dat ek so gou moontlik by ‘n ruk-en-plukdokter moet uitkom.”

Anton moes die volgende aand weer optree en het opgemerk dat sy PRS-kitaar nie gestem wou bly nie en dat die kitaar ‘n vreemde “buzz” geluid gehad het. “My hand was baie seer maar ek het my vertoning klaar gemaak. Ek het die res van die fees voltooi met my linkerkant van my lyf wat steeds lam was.”

Anton is duidelik nie ‘n man van min woorde nie en het verder geskryf dat hy ‘n afspraak gemaak het by Pauline Moolman, ‘n ruk-en-plukdokter na wie sy tromspeler Riaan Diedericks hom verwys het. “Sy het Sting (die sanger) behandel. Ek het vir twee sessies by haar gegaan en sy het gesê dat my rug op meer as vier plekke uit was. Ek het dadelik beter gevoel na my besoek en die gevoel in my lyf het herstel.”

Anton moes R69.54 by Van Heerden-apteek opdok; R547.65 by Holt & Partners; asook R480 en R330 onderskeidelik vir twee sessies by Pauline. Die kitaar kan glo net in Amerika herstel word en volgens ‘n agent daar gaan dit ongeveer R16 500 kos om die PRS te herstel, plus ‘n verdere R4 950 aan verskeping. Dit sal R43 495 kos om die kitaar plaaslik te vervang.

Die skade aan Anton Botha se kitaar.
Die skade aan Anton Botha se kitaar.

Rapport het Sondag oor die voorval berig en genoem dat Innibos volle verantwoordelikheid vir die voorval aanvaar. Andy Lubbe, feesbestuurder, het egter geantwoord: “Ek wil dit duidelik stel dat ons, in teenstelling met die stelling in Rapport, nog nooit verantwoordelikheid aanvaar het vir die voorval nie.

“Nadat ek daarvan te hore gekom het, het ek met Anton gepraat en aan hom verduidelik dat ons publieke aanspreeklikheidsversekering het en dat ons sal probeer om daarteen te eis. Dit sal egter afhang daarvan of die versekering besluit om, op die meriete van die saak, die eis te betaal of nie.

“Ons kan nie verantwoordelikheid aanvaar vir hierdie voorval nie. Die verhoog, wat die trappe insluit, is voor die fees ondersoek en deur ‘n ingenieur goedgekeur en as veilig afgeteken. Ek beskou dit bloot as ‘n ongeluk. Ons het reeds die eis by die vesekering ingedien en wag vir hulle terugvoer,” het hy gesê.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button