Hard newsNewsNews

Mpumalanga Rugby-unie moet hoés, las hof

Luidens hofstukke het die hoof-uitvoerendebeampte van die unie, mnr. Koos Kruger, boonop gewéét dat dit nooit daarvoor sou betaal nie omdat dit nie die geld gehad het nie

MBOMBELA – Die Mpumalanga Rugby-unie is deur die hooggeregshof in Gauteng beveel om bykans R300 000 op te dok vir stoele wat dit aangekoop het vir ‘n internasionale rugbywedstryd in 2010.

Die unie het probeer wegskram van dié verantwoordelikheid deur te beweer dat Nkangala-distriksmunisipaliteit onderneem het om dit te betaal.

Luidens hofstukke het die hoof-uitvoerendebeampte van die unie, mnr. Koos Kruger, boonop gewéét dat dit nooit daarvoor sou betaal nie omdat dit nie die geld gehad het nie.

Kruger is deur regter me. Cynthia Pretorius as ‘n nie-bevredigende getuie beskryf, “vaag en ontwykend”. “Hy kon nie al die vrae beantwoord nie en sy weergawes het mekaar weerspreek,” het sy gesê.

Suid-Afrika en Italië het op 22 Junie 2010 by Puma Atlantic Stadion in eMalahleni teen mekaar uitgedraf. Kruger het Khanda Seating in April daardie jaar genader en gevra om 2 630 stoele by die stadion te installeer. Khanda het die unie R251 550 gekwoteer, waarop Kruger gevra het dat dit verander word om die kostes van nog sowat 100 stoele in te sluit. Dit het die totaal op R286 767 te staan gebring.

Nie net het Khanda Seating die unie tegemoetgekom deur nié aan te dring op ‘n 50 persent deposito alvorens hulle die stoele sou lewer nie, maar dit is binne slegs drie weke geinstalleer, alhoewel dit gewoonlik ses tot agt weke neem.

Khanda is egter nooit betaal nie en ene mnr. Robson, besturende direkteur van die besigheid, het getuig dat hy eers twee jaar later agtergekom het dat die unie verwag het dat die munisipaliteit vir die stoele moes betaal.

Die munisipaliteit het egter aangevoer dat dit nooit vir Kruger magtiging gegee het om kwotasies aan te vra of te aanvaar nie. Enige uitgawes bo R200 000, moes in elk geval op tender uitgaan.

Die saak het uiteindelik in die hooggeregshof gedraai. Kruger het drie weergawes aan die hof voorgehou, naamlik dat hy magtiging gehad het om die kwotasies namens die munisipaliteit te bekom; dat hy mondelings magte gegee is om die kwotasie te aanvaar en ook dat hy aangeneem het dat die munisipaliteit die kwotasie aanvaar het.

Khanda Seating en Nkangala het egter die teendeel bewys en Pretorius het tydens haar uitspraak melding gemaak van hoe Kruger homself telkens weerspreek het. Sy het dus al drie sy weergawes verwerp.

Pretorius het gelas dat die unie Khanda Seating moet betaal, asook dié én Nkangala se regskostes. Dit word ook aanspreeklik gehou vir die reis- en verblyfkostes van vier getuies van die munisipaliteit.

Mnr. Hein Mentz, president van die unie, het by navraag gesê dat dit “korrek en volledig met die uitspraak sal handel nadat die nodige protokol oor die aangeleentheid binne die unie gevolg is”.

“Dit sluit verslagdoening aan die presidentsraad asook die raad van direkteure in,” het hy gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button