Na twee maande het die situasie in die parkie in Ehmkestraat nog steeds nie verander nie. Nelspruit Post het telkemale hieroor berig en die munisipaliteit vir kommentaar genader.
Die antwoorde bly steeds dieselfde en inwoners wonder wanneer dit gaan end kry.
Die rommel in die parkie het vererger terwyl die snoepwinkels en die skoenmaker nog steeds onwettig handeldryf. Toe die koerant die eerste keer hieroor berig het, het mnr. Jospeh Ngala, woordvoerder vir Mbombela, verseker dat die plakkers dadelik verwyder sal word. Die DA het twee weke gelede ‘n petisie met 187 handtekeninge by die munisipaliteit ingedien in die hoop dat die plakkers verwyder sal word. Volgends mnr. Werner le Grange, DA-raadslid, sal die situasie by die raadsvergadering hierdie Donderdag bespreek word.
“Dit gaan nie meer net oor die plakkers nie, maar oor al die rommel wat nou al tot by die busstop strek,” sê hy.
Ngala het weer bevestig dat hulle die situasie sal opvolg.
