Ballade vir ‘n Enkeling-skrywer gesels oor die verhaal
Leon van Nierop het onlangs Hazyview besoek om sy nuwe boek bekend te stel. Dit is 'n uitgebreide, meer moderne weergawe van die immergroen 'Ballade vir 'n Enkeling'-verhaal.
As Ballade vir ‘n Enkeling ter sprake is, kry baie mense ‘n veraf kyk in hulle oë en dink terug aan die tyd toe hulle vasgenael voor die televisie die reeks gesit en volg het.
Die nostalgie is juis die rede hoekom Leon van Nierop die storie weer vertel, dié keer in die vorm van ‘n lywige roman. Hy het die boek verlede week by VLU Mpumalanga se jaarkongres by Numbi Hotel bekendgestel en die gaste met staaltjies rondom die verhaal geboei.
Ballade vir ‘n Enkeling handel oor die verdwyning van die gewilde skrywer, Jacques Rynhard, en die joernalis, Carina Human, wat hom probeer opspoor. Die storie is egter veel dieper as net ‘n verdwyning en die donker geheime wat Human oopkrap mag dalk net in moord ontaard.
Die uiters gewilde reeks was in die tagtigerjare op die kassie, wat beteken dat ‘n hele geslag jongmense die verhaal nie ken nie. Die aanvraag van vele aanhangers het Van Nierop aangespoor om Ballade weer te vertel en ‘n ander, meer moderne gedaante te gee. Hy sê dat die storie veel groter as in die TV-reeks en opkomende rolprent is, aangesien hy nie beperkings gehad het nie. Hy kon sy karakters dus enige plek heen vat, soos oorsee of op ‘n treinreis, en lesers sal die karakters beter kan leer ken, want hulle gedagtes word geopenbaar.
Hy het ook kongresgangers die inspirasie agter die verhaal verduidelik en die ooreenkomste tussen sy persoonlike lewe en die boek aangedui. Hy het ‘n roerende voorlesing uit die boek gedoen en vertel dat die spesifieke toneel (‘n droom waarin die hoofkarakter se geliefde verskyn) geskryf is nadat hy ‘n geliefde vir die eerste keer in jare gesien het. Hy het ook gemerk dat die tikmasjien waarop hy destyds Ballade getik het in die fliek gebruik gaan word en dat dit ‘n geskenk van daardie selfde geliefde was.
Na Ballade is Van Nierop vir eers klaar met romans skryf en gaan hy aan ‘n verhoogstuk en dan ‘n draaiboek vir ‘n TV-reeks oor Suid-Afrika se filmbedryf werk.
Hy sal heel moontlik ook weer ‘n draai in Hazyview maak aangesien hy hier ‘n huis het en ‘n reis na die Laeveld een van sy gunsteling tydverdrywe is. “Hazyview is sonder om twee keer te dink my gunstelingplek in die Laeveld en ek besoek dit graag vir rus en ontspanning,” vertel Van Nierop. Hy ken die dorp al ongeveer 31 jaar en het as kind hier saam met sy ouers kom vakansie hou. Die hitte pla hom glad nie, aangesien dit deel van die lekkerte van die omgewing is. Wanneer die dorp egter te besig vir hom raak, gaan soek hy die stilte van Mount Sheba op.
Ballade vir ‘n Enkeling is tans op die rakke van die meeste boekwinkels beskikbaar en die rolprent, waarin Rolanda Marais, Donnalee Roberts en Jacques Aucamp speel, word in Maart 2015 uitgereik.
