Organisasie wil armoede hokslaan
“Die doel van Helpende Hand is om hoop en verligting aan hierdie mense te bring, maar veral ook om voorkomend op te tree en eindelik armoede te verbreek”.
LYDENBURG – Uit die bykans 36 000 werkloses en ‘n werkloosheidsyfer van 20,5 persent in die Thaba Chweu Munisipaliteit, het Solidariteit Helpende Hand besluit om nou ook plaaslik in te gryp.
Helpende Hand, ‘n onderafdeling van Solidariteit, wat in 1949 gestig is as antwoord op die wit armoedekrisis na die Tweede Wêreldoorlog, het verlede week sy deure in in die dorp geopen om hoop te bring vir dié vir wie armoede ‘n werklikheid is.
“Die meeste mense wat in armoede leef, het‘n tekort aan kos, klere, huisvesting, vervoer, opvoeding en geld,” het Alisha de Lange, streeksorganiseerder van Mpumalanga, tydens die opening gesê. Sy het bygevoeg dat daar ‘n wanpersepsie rondom armoede bestaan, maar beklemtoon dat dit menigmaal hoogs gekwalifiseerde persone is wat eenvoudig nie kan werk kry nie weens verskeie faktore – wat regstellende aksie insluit. “Die doel van Helpende Hand is om hoop en verligting aan hierdie mense te bring, maar veral ook om voorkomend op te tree en eindelik armoede te verbreek”.
Alhoewel Helpende Hand se fokus hoofsaaklik op behoeftige blankes is, wat wissel van baba tot bejaarde, het De Lange dit duidelik gestel dat hul nie ander rasse uitsluit wat wel in hul demografie val nie. “Mense moet besef dat Helpende Hand geen fondse ontvang van die staat of instansies soos die Lotto nie, maar bloot staatmaak op debietorderondersteuners.
“Ons is nie polities verbind nie. Ons is nie ‘n politieke party nie. Ons praat met almal wat ons belange kan bevorder. Ons is nie ‘n organisasie wat net gee nie en ons gee nie geld nie,” het sy laat hoor en gesê dat Helpende Hand hoofsaaklik nou saamwerk met organisasies soos Vrouefederasies, VLU, Boereverenigings en gemeenskappe, Afrikaanse kerke, privaatmaatskappye, skole, skoolsielkundiges en enige ander instelling wat die Afrikaner se belange bevorder.
Van die projekte wat deur Helpende Hand gedryf word, is onder andere ‘n kosblikkie-, skooltassie-, bemagtig ‘n kind- asook ‘n skoolsentrumprojek wat fokus op kinders wat deur armoede geraak word. “Helpende Hand streef daarna om armoede so vroeg as moontlik teë te werk en in ondderrigbehoeftes te help voorsien vir wie dit nie moonltik is nie. Ons staan kinders finansiël by sonder om geld te gee en kweek ook ‘n entrepreneurs-ingesteldheid onder leerlinge deur hierdie projekte”.
Helpende Hand bied ook beurse en rentevrye studielenings aan vir studente en het reeds 700 studente hierdie jaar gehelp. Hulle fokus egter ook veral op bejaardes en het verskeie projekte soos die vat-‘n-oupa-rugby-toe en die neem-ouma-fliek-toe projek. Volgens De Lange is hierdié projekte se doel om bejaardes se armoede en eensaamheid te verlig.
Helpende Hand het tans 140 takke landswyd wat fokus op ofheffing en opleiding en in 2013 reeds 878 projekte suksesvol voltooi. Hulle nooi alle gemeenskapslede uit om by hulle aan te sluit en betrokke te raak. Vir meer inligting kan die voorsitter, Maritza du Toit by 082-492-5223 of de Lange by 082-923-1438 gekontak word.
