Skoonheid mik om verskil op plaaslike bodem te maak
Labuschagne is vroeër die jaar ook as een van die Junior Mej.Suid-Afrika finaliste benoem waar sy eindelik as die Mej Junior SA Mpumalanga-streekswenner gekroon is.

LYDENBURG – Die plaaslike skoonheid Anna-Marie Labuschagne pryk moontlik een van die dae op een van die grootste aanlyn mode en skoonheidstydskrifte, MPSAmag.
Sy is onlangs as een van die finaliste aangewys en maak nou staat op die gemeenskap om haar te help om hierdie droom te verwesenlik. As een van die voorvereistes moet skoonhede nie-bederfbare produkte ter waarde van R1 000 vir ‘n ouetehuis van hul keuse insamel om in aanmerking te kom. Alhoewel daar slegs drie dae oor is, het Labuschagne egter besluit om die projek reg deur die jaar voort te sit. “Al is die projek net vir die maand is ek steeds bereid om nog skenkings te ontvang en af te lewer waar nood is. Ek doen nie net liefdadigheidswerk vir my projek nie, maar beskou dit as ‘n eer om te help waar moontlik”, sê sy.
Sy is ook aktief betrokke by verskeie welwillendheidsorganisasies in die gemeenskap en het reeds met behulp van dié tydskrif daarin geslaag om 20 lessenaarsakke aan minderbevoorregte kinders van die Lydenrust Rural Farm School te skenk.
Labuschagne is vroeër die jaar ook as een van die Junior Mej.Suid-Afrika finaliste benoem waar sy eindelik as die Mej Junior SA Mpumalanga-streekswenner gekroon is.
Die MPSAmag is ‘n gratis, digitale tydskrif vir elkeen wat belangstel in skoonheid, mode, fiksheid en modelwerk. Dit bied ‘n kombinasie van advies in bogenoemde velde en gee ook ‘n kykie agter die skerms na van die mooiste titelhouers. Besoek gerus hulle facebookblad en kyk of Anna-Marie dalk nie op die voorblad pryk nie.
Indien die gemeenskap Anna-Marie wil ondersteun kan nie-bederfbare produkte by Solidariteit of die koerant se kantore afgelaai word.
Vir meer inligting kan MPSAmag by 011-896-1818 gekontak word.
