Onderwysers en leerlinge van Witrivier Kleuterskool sal hopelik makliker kan asemhaal nadat die plaaslike munisipaliteit ‘n verstopte mangat skoongemaak het. Die skool het die afgelope vier maande met ‘n stroom riool gesukkel wat langs die eiendom verbyloop.
Dieselfde probleem het die skool jare lank geteister, maar na berriggewing in Laevelder verlede Oktober is die probleem klaarblyklik opgelos. Verlede week het die skool egter White River Post geskakel met die nuus dat hulle dit weer nie met die stank kan uithou nie en geen reaksie van die munisipaliteit af ontvang nie.
Die riool het uit ‘n verstopte mangat gestroom en verby die grensmuur, naby een van die klaskamers se hoek, gevloei. Onderwysers moes hul vensters toe hou om die reuk uit te hou en kinders moes soms selfs die agterste speelgrond vermy. “Ons het redelike asemhalingsongemak ervaar,” vertel een van die onderwyseresse en vervolg dat die reuk soms binne die klaskamers gehang het ten spyte van toe vensters.
Nadat die munisipaliteit verlede jaar ingegryp het, kon die onderwysers nie meer die geluid van lopende water hoor nie, maar dit steeds op winderige dae ruik.
Me. Bessie Pienaar, kommunikasiebeampte van die munisipaliteit, het by navraag gesê dat beamptes verlede maand die perseel besoek het om ondersoek in te stel. Die beamptes het Vrydag weer gaan kyk en bevind dat die vet en olie wat deur kitskosrestaurante en kettingwinkels in White River Square tydens kookprosesse gebruik word, die dreineringspype en filtreringsprosesse verstop het. Dit het veroorsaak dat afval nie behoorlik gedreineer het nie en verby die kleuterskool begin vloei het.
Die munisipaliteit het die winkels aangeraai om versigtig met hul afval te werk en het onderneem om die mangat skoon te maak.
Vrydagmiddag was twee daar skoonmaakspanne en Maandagoggend het ‘n munisipale beampte die kleuterskool besoek om te sien wat die situasie daar is. Hy het agtergekom dat ‘n swembad se terugspoelwater ook na die skool se kant oorloop. Die relevante departement is gevra om dringend aandag te gee aan die probleem om die water na die stormwaterkanaal te laat vloei.
Die kleuterskool is verheug dat die probleem nou aangespreek word en hoop dat dit permanent opgelos sal word.
