Ouers van baba met seldsame afwyking bly hoopvol
Hy het hulle meegedeel dat Caiden van nou af net agteruit sal gaan en dat "hulle nie te veel moet verwag nie". "Hy sê ook dat Caiden nooit 'n normale lewe sal kan lei nie. Sy sal nooit kan kruip, loop of praat nie, maar ons glo op 'n wonderwerk
MBOMBELA – ‘n Plaaslike ouerpaar hoop op ‘n wonderwerk vir hul babadogtertjie wat met ‘n uiters skaars breinafwyking én sindroom gebore is.
Haar lewensverwagting is nie lank nie en haar ouers is boonop afgeraai om nog kinders te hê omdat haar boeties of sussies waarskynlik óók aan dié afwyking sal ly. Caiden van Staden is op 11 Desember verlede jaar gebore. Haar ouers, Willie van Staden (29) en Ashleigh du Plessis (20), beskryf haar as die grootste geskenk wat hulle nog ooit gekry het.
Caiden het heeltemal gesond en normaal voorgekom. Toe sy egter op ses maande nog nie kon sit nie, het haar ouers bekommerd geraak en haar na ‘n pediater, dr. Madel van Dyk, geneem. Van Dyk het toe opgelet dat die omtrek van Caiden se koppie maar 39 sentimeter was – baie klein vir ‘n baba van haar ouderdom.
Sy het Caiden se ouers meegedeel dat haar motoriese ontwikkeling vertraag was, maar dat dit moontlik met arbeids- en fisioterapie sou verbeter. Caiden het sowat drie weke lank terapie ondergaan toe haar ouers begin agterkom dat sy stuiptrekkings kry. Hulle het haar na hul huisdokter, dr. Attie van Wyk geneem en sy het ‘n aanval in sy spreekkamer gekry.
Van Wyk het bevestig dat dit ‘n epileptiese aanval was en het gesê dat sy dadelik in Mediclinic Nelspruit opgeneem moes word. Sy is in die hoësorgeenheid behandel waar verskeie toetse op haar gedoen is.
Daar is toe vasgestel dat sy met Lissencephaly gebore is. Dit beteken dat sy letterlik ‘n gladde brein het waarvan die groewe nooit ontwikkel het nie. Epilepsie is een van die simptome van dié genetiese afwyking.
Soos Du Plessis sê, die term Lissencephaly was Grieks vir hulle en min het hulle geweet hoe dit hul huidige lewens én toekoms sou beïnvloed.
Caiden is op 19 Julie uit Mediclinic ontslaan, maar weer op 28 Julie opgeneem toe sy daardie dag 27 aanvalle gehad het. Sy is twee dae later na Unitas in Centurion oorgeplaas waar sy deur ‘n pediatriese neuroloog, dr. Michael Lippert, behandel word. Hier is sy ook met West-sindroom – ‘n epileptiese afwyking in kinders – gediagnoseer.
Hoewel Caiden behandeling ontvang het, het sy drie aanvalle per dag gekry waar kinders wat op behandeling is gewoonlik net een ‘n maand kry.
Intussen is daar vasgestel dat haar ouers albei draers van die Lissencephaly-geen is. Sowat 11,7 uit ‘n miljoen babas wat in Amerika gebore word, het Lissencephaly. Lippert self het nog net 12 gevalle behandel.
Hy het hulle meegedeel dat Caiden van nou af net agteruit sal gaan en dat “hulle nie te veel moet verwag nie”. “Hy sê ook dat Caiden nooit ‘n normale lewe sal kan lei nie. Sy sal nooit kan kruip, loop of praat nie, maar ons glo op ‘n wonderwerk,” sê Du Plessis.
Kinders met Lissencephaly leef selde tot hul tienerjare omdat hulle asemhalingsprobleme ontwikkel en hieraan sterf. Caiden gebruik tans Keppra, Sabril, Lethyl en Diazepam en ontvang ook fisio- en arbeidsterapie. Haar ouers het wel ‘n mediese fonds, maar dit dek nie al die kostes nie en gaan binnekort uitgeput wees.
Diegene wat ‘n bydrae tot haar behandeling wil maak, kan ‘n deposito in die volgende rekening maak: C.P. Van Staden, FNB, Barberton, rekeningno. 624-898-466-87 en takkode 270-152.
