Hard newsNewsNewsUpdate

President van rugby-unie vaar uit teen media

Waarmee is jy besig? Vra jy my hoe ek salarisse en lone aan die einde van die maand gaan betaal? Vra jy my hoe ek my drankrekening gaan betaal? Hoekom wil jy dit weet? Ek vind jou navrae afstootlik en dit staan my nie aan nie. Is jy op 'n vernietigingspad?!

MBOMBELA – Terwyl die Puma-rugbyspan se spel op die veld baie beïndruk, is die spelpatroon op bestuursvlak meer onduidelik.

Die Mpumalanga Rugby-Unie se president, mnr. Hein Mentz, ontwyk steeds ernstige vrae oor die onlangse Hooggeregshofbevel van byna R300 000 wat teen hulle uitgereik is.

Mentz het gister teenoor Laevelder uitgevaar en die koerant van ‘n “vendetta” beskuldig nadat dit bloot gevra het hoe die unie die bevel gaan eerbiedig. Hiervolgens moet die unie byna R300 000 opdok vir 2 700 stoele wat in 2010 by Puma Atlantic Stadion in eMahlaleni geïnstalleer is.

Die Gautengse Hooggeregshof het verlede maand gelas dat die unie wel R286 767 aan Khanda Seating moet betaal nadat die stoele kort voor ‘n internasionale toetswedstryd tussen Suid-Afrika en Italië geïnstaleer is.

Die unie se hoof-uitvoerendebeampte, mnr. Koos Kruger, het deurgaans met Khanda Seating onderhandel, maar later aangevoer dat die Nkangala-munisipaliteit vir die werk sou opdok. Na twee jaar het Khanda Seating hom tot die Hooggeregshof gewend waar daar in sy guns beslis is.

Kruger het basies drie weergawes aan die hof voorgehou, naamlik dat hy magtiging gehad het om die kwotasies namens die munisipaliteit te bekom; dat hy mondelings magte gegee is om die kwotasie te aanvaar en ook dat hy aangeneem het dat die munisipaliteit die kwotasie aanvaar het. Khanda Seating en Nkangala het egter die teendeel bewys.

Enige iets waarvan die kostes meer as R200 000 sou beloop, moes buitendien op tender uitgaan. Regter Cynthia Pretorius het toe gelas dat die unie wel Khanda Seating moet betaal, plus hulle regskostes asook dié van Nkangala. Die hof het Kruger as ‘n nie-bevredigende getuie beskryf wat vaag en ontwykend was.

Laevelder het Mentz aanvanklik gevra hoé die unie nou vir die stoele gaan betaal, aangesien (volgens hofstukke), Kruger van die begin af geweet het dat die unie nie oor genoeg fondse beskik om die aankoop te eerbiedig nie. Die koerant wou ook weet hoe die unie teen Kruger sou optree.

Mentz het toe gesê dat die unie “korrek en volledig met die uitspraak sal handel nadat die nodige protokol oor die aangeleentheid binne die unie gevolg is. Dit sluit verslagdoening aan die presidentsraad asook die raad van direkteure in”.

Gister het Laevelder weer gevra of die unie die geld het om Khana Seating te betaal en hoe daar teen Kruger opgetree gaan word. Menz het via e-pos geantwoord dat hulle ‘n elektroniese oorplasing gaan doen en dat geen optrede teen Kruger geneem sal word nie.

Oomblikke later het ‘n ontstoke Mentz die koerant gebel en beskuldigings rondgeslinger. “Waarmee is jy besig? Vra jy my hoe ek salarisse en lone aan die einde van die maand gaan betaal? Vra jy my hoe ek my drankrekening gaan betaal? Hoekom wil jy dit weet? Ek vind jou navrae afstootlik en dit staan my nie aan nie. Is jy op ‘n vernietigingspad?!”

Mentz het gesê Laevelder se joernalis moet na sy losie kom “dan kan jy al jou vendettas teen die Pumas op die tafel sit en ek kan op elkeen reageer. Ek gaan jou in die oë kyk en ek hoop jy kan dieselfde doen.”

Hy het onderneem om weer ‘n e-pos te stuur waarin hy die vrae sou beantwoord. Teen druktyd was daar geen verdere reaksie nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button