
Plaaslike inwoners en nooddienste is op hul hoede nadat ‘n brandwaarskuwing deur owerhede uitgereik is.
Dit volg nadat meer as 300ha weiding en plantasies sedert Maandag in verskeie brande in en rondom Mbombela verwoes is.
‘n Gedeelte van Bhejani Bush Lodge op die Uitkyk-pad het Maandagmiddag byna heeltemal tot op die grond afgebrand nadat ‘n vonk van ‘n weghol- veldbrand vermoedelik in een van die luukse gastekamers se grasdak beland het. Dié veldbrand het glo vroeër die dag in die bergreeks uitgebreek, maar is vinnig onder beheer gebring.
Volgens die getraumatiseerde Bhejani-eienaar, mnr. Johan de Kok, was hulle nog besig met algemene opgraderings aan die gastehuis elders op die perseel toe hulle die rookwolk oor die berge gesien aankom het. Weens moeilike toegang tot die perseel kon Mbombela-brandweerdiens nie betyds die vuur geblus kry voordat dit een van die gastekamers verwoes het nie.
Behalwe vir De Kok wat ligte brandwonde opgedoen het in ‘n desperate poging om saam met sy werknemers te red wat daar te redde was, is niemand verder beseer nie.
Die oorsaak van die veldbrand is nog onbekend. Die brandweer, ander brandbestryders asook die provinsiale rampbestuureenheid skryf dit egter toe aan die warm, droeë en winderige toestande wat die Laeveld tans ondervind. “Dit is uiters gunstige toestande vir weghol-veldbrande,” sê mnr. André Scheepers, die bestuurder van Lowveld and Escarpment Fire Protection Association (LEFPA).
Plaaslike owerhede is op hoë gereedheidsgrondslag geplaas. Scheepers het alle inwoners gewaarsku om uiters versigtig te wees met oop vure en paraat te bly.
Intussen is alle brandpermitte tot verdere kennisgewing opgeskort. Hy het gesê hulle verwag dat hierdie uiters warm weer en brandgevaartoestande vermoedelik vir die volgende week sal voortduur.
Rapporteer veldbrande aan LEFPA by 086-066-3473.
