Vir diegene wat hul drankies geniet blyk die dae verby te wees waar hulle hulself op ‘n Saterdag voor 17:00 na die drankwinkel moes haas om vir kuiers op ‘n Sondag te beplan.
Verskeie oplettende inwoners het al opgemerk dat die deure van sommige drankwinkels sedert die begin van die maand nie meer op Sondae toe bly nie.
Nuwe wetgewing in die provinsie is op 26 Augustus in die staatskoerant gepubliseer, waarvolgens nuwe gedeeltes van die Mpumalanga DrankLisensieëringswet van 2006 in werking tree.
Een van die winkels wat nou Sondae oop is, is Liquor City by Crossing. Mnr. Norbert Lopes van die winkel het gesê hulle het instruksies van hoofkantoor ontvang om sedert die begin van die maand Sondae van 10:00 tot 15:00 oop te wees.
Rooikat Liquors het egter daarteen besluit om Sondae oop te maak. Mnr. Johan Breytenbach, eienaar van Rooikat, verduidelik dat hulle dink mense se verbruik of aankope gaan nie vermeerder nie.
“Mense sal hul kooppatroon verander en miskien eerder Sondae as op Saterdagmiddae hul aankope doen. Maar dit gaan nie jou omset verhoog nie,” verduidelik Breytenbach.
Boonop werk sy personeel reeds lang ure en sal hy hulle Sondae beduidend meer moet betaal. “En as jy sulke lang ure werk is daardie een dag af by die huis saam met die familie baie waardevol.”
Hy sê hy sal dit wel oorweeg om in die toekoms op Sondae aan handelaars te verskaf, mits die vraag groot genoeg is.
Liquor City Crossing se bestuurder, mnr. Johan Roux het gesê hulle is nie besonder besig op Sondae nie. “Dit lyk asof mense nog nie eintlik weet ons is oop nie.”
