MBOMBELA – Al die nooddienswerkers wat Vrydag gestaak het, is deur die gesondheidsdepartement geskors. Mnr. Dumisane Malamule, woordvoerder vir die departement, het gister gesê dat elke nooddienswerker wat aan die staking deelgeneem het ook dissiplinêre verhore sal ondergaan omdat dit onwettig was.
Die werkers mag nie staak sonder dat ‘n minimum diensooreenkoms in plek is nie. Die mediese nooddienswerkers het gestaak omdat hulle nie oortyd betaal word nie.
Malamule het egter teenoor die koerant volgehou dat al die werknemers van die provinsiale departement bewus is van die beleid waarvolgens hulle goedgekeurde oortydeise betaal.
“Al die betalings vir oortyd word tans vir alle werkenemers van die departement geprosesseer. Baie eise voldoen ongelukkig nie aan die vereistes nie en moet teruggestuur word. Soms het werkers nie vooraf goedkeuring vir oortyd ontvang nie en soms het hulle nie die bewys dat hulle wel dié vooraf goedgekeurde oortyd gewerk het nie. Soveel as wat ons hulle wil betaal, is dit die rede vir die oponthoud.”
Malamule sê baie eise is al betaal en ander is in die proses om betaal te word.
Hy voeg by dat alle unies van die verifiëringsproses bewus is. Hy kon teek druktyd nie bevestig presies hoeveel werkers skorsingsbriewe ontvang het nie.
