Editor's choiceFoodLifestyleLocal newsNews

Besoek gerus ‘cosy’ Cafe Crust

Dit sal selfs diegene op die Tim Noakes-dieet voor ‘n stukkie stysel laat swig.

By Café Crust ruik jy dadelik die reuk van vars tuisgebakte brood sodra jy by die deur instap. Dit sal selfs diegene op die Tim Noakes-dieet voor ‘n stukkie stysel laat swig.

Volgens die eienaar, André du Preez, het hy in Pretoria studeer om ‘n sjef te word. “Ek het toe in Hermanus in die Kaap gaan werk. Heel toevallig het my ouers die perseel in Lydenburg gekoop terwyl ek daar was. Ek het die idee van Café Crust in my kop gekry en besluit dat dit ‘n goeie idee sou wees om dit hier in Lydenburg oop te maak.”

Volgens Du Preez beskryf mense dikwels dié eetplek as cosy. Café Crust bak ook daagliks vars brood. Dis geen wonder dat toebroodjies hul spesialiteit is nie. “Ons het verlede week ‘n nuwe een op die spyskaart aangebring, ‘n ciabatta-broodjie met spek, tamatie, hoender en gesmelte mozzarella kaas oor en met ons eie tuisgemaakte heuning-mosterdsous daaroor.”

Du Preez weet presies wat die inwoners se begeertes is as dit by kos kom. Hy en sy ouers is immers al lank inwoners van die dorp.

Hy verduidelik dat mense dikwels vra oor die brood wat nie die gewone soutsmaak het nie. “Die brode wat dikwels in die winkels gekoop word, bevat ‘n chemikalië as preserveermiddel en dis gewoonlik dié smaak wat die mense mis.”

Hulle spog ook met egte rogbrood en outydse suurdeegbrode. Dit neem ongeveer ses tot agt uur om die brode te maak. Selfs mense wat gluten-inhiberend is, kan dit eet.

“Mense kan lekker, vars kos verwag wat met baie liefde en aandag gemaak word.” By die oulike eetplek, bly die korsie verseker nie op die bord na ‘n ete agter nie…

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button