MBOMBELA – Die skorsing van 43 mediese nooddienswerkers wat verlede week gestaak het terwyl hulle aan diens was, plaas die provinsiale gesondheidsdepartement se dienste onder druk.
Hulle is nie afgedank soos daar deur ander media berig is nie. Die werkers het Maandag skorsingsbriewe ontvang oor wat die departement ‘n onwettige staking genoem het. Hulle het verlede Vrydag geprotesteer omrede hulle glo nie hul oortydbetaling ontvang nie.
‘n Bron van Mpumalanga se mediese nooddienste sowel as die woordvoerder van gesondheid, mnr. Dumisane Malamule, het aan Laevelder beken dat hulle tans swaar trek. Die anonieme bron het gesê die personeel hanteer wel die situasie.
Malamule het gesê die departement werk daaraan om gebeurlikheidsplanne in plek te stel. “Ons wil verseker dat dienslewering voortgaan en is besig om verskillende opsies te oorweeg, soos om nooddienswerkers van ander distrikte in te trek,” het hy gesê.
Volgens Malamule het hulle slegs die stakers wat volgens hul diensroosters wel aan diens moes wees ten tyde van die demonstrasie, geskors. Hy hou ook vol dat hulle wel oortyd betaal word en dat hulle besig is om eise te bevestig.
Die bron het beaam dat dit sover sy kennis strek, wel die geval is, en dat werkers ook ander klagtes het. Na wat verneem word, is nog ‘n vergadering tussen die betrokke unies en die departement vir gister (Donderdag) beplan oor hul griewe. Teen druktyd was daar nog geen reaksie op die beplande ontmoeting nie.
