Hard newsNewsNews

Nuwe drankwet verwar

"Of jy 'n brood of wyn koop op Sondae, die kasiere moet steeds werk."

Die nuwe dranklisensiëringswet veroorsaak groot verwarring onder drankverkopers in die provinsie. Ingevolge die Mpumalanga Dranklisensiëringswet wat op 30 Augustus in werking getree het, het munisipaliteite nou groter seggenskap in die toestaan van lisensies – en handelsure.

Een van die drankwinkels wat sedert die begin van die maand op Sondae sy deure oopmaak is Liquor City by Crossing. Mnr. Norbert Lopes van die winkel het gesê hulle het instruksies van hoofkantoor ontvang om sedert die begin van die maand wel op Sondae hul deure te open. Die winkel is Sondae van 10:00 tot 15:00 oop. Die proses blyk egter nie so eenvoudig te wees nie.

Die LiquorWise-afdeling van The Licence Co sê die belangrikste aspek van die nuwe wet is dat munisipaliteite in ‘n groot mate kan bepaal of ‘n lisensie toegestaan word sowel as handelsure.

“Die Mpumalanga Drankraad word deur die wet opdrag gegee om handelsdae- en ure in ooreenstemming met die aanbevelings van die munisipaliteit te beperk. Voordat daar enige verandering in huidige lisensievoorwaardes aangebring kan word, sal die lisensiehouer ‘n geskrewe aansoek aan die relevante munisipaliteit moet rig.”

“Die enigste logiese interpretasie is dat alle bestaande lisensies vir die volgende 12 maande dieselfde sal bly. Dus geld dieselfde voorwaardes, wat handelsure insluit. Ongelukkig spesifiseer die wet nie wat die situasie met handelsure is nie. Dit sê slegs dat lisensievoorwaardes kan verander, maar slegs as die munisipaliteit vooraf in kennis gestel is.”

Mbombela-munisipaliteit sê dit was nie bewus van die nuwe wetgewing nie. Woordvoerder mnr. Joseph Ngala sê hulle wou wel nog altyd groter insette in die toestaan van lisensies gehad het.

“Die wet dien as ‘n riglyn vir die handelsure van drankverkopers, maar die munisipaliteit kan strenger voorwaardes tydens die openbare deelnameproses en die toestaan van grondgebruikregte insluit as dit in die openbare belang nodig geag word.”

Hoewel Pick n Pay Liquor Nelspruit se webtuiste aandui dat die winkel Sondae tussen 09:00 en 14:00 oop is, sê mnr. Gavin Ivers, hoof van Pick n Pay se drankwinkels, dat winkels in die provinsie nie tans op Sondae oop is nie. “Die wetgewing is baie verwarrend. Ons prokureurs kyk daarna.”

LiquorWise beaam dit ondervind dieselfde verwarring in ander provinsies met sy eie drankwetgewing. “Hoewel die drankrade probeer voorberei vir die implementering van ‘n nuwe wet, lyk dit asof hulle altyd die situasie onderskat. Dit neem gewoonlik twee tot drie jaar vir hulle om riglyne in te stel oor hoe om spesifieke dele te interpreteer.

“Dis maklik om te sê dat probleme voorsien moes word as die implementering nie werk nie. Almal moet dus geduldig wees.”

Rooikat Liquors sê dit het daarteen besluit om Sondae oop te maak. “Mense sal hul kooppatroon verander en miskien eerder Sondae as op Saterdae hul aankope doen. Maar dit gaan nie jou omset verhoog nie,” verduidelik die eienaar mnr. Johan Breytenbach.

Boonop werk sy personeel reeds lang ure en sal hy hulle Sondae beduidend meer moet betaal. “As jy sulke lang ure werk is daardie een dag af saam met die familie baie waardevol.” Hy sal dit wel oorweeg om in die toekoms op Sondae aan handelaars te verskaf, mits die vraag groot genoeg is.

Maar hy stel die koop van drank op Sondae met kos gelyk. “Of jy ‘n brood of wyn koop, die kasiere moet steeds werk.”

Die provinsiale department van ekonomiese ontwikkeling waaronder die Mpumalanga Drankraad val, het teen druktyd, na meer as 48 uur, nie kommentaar op die wetgewing gelewer nie.

  • Wat sê SANCA Laeveld oor drank-verkope op Sondae?

Me. Marina Erasmus sê dit bly betwisbaar. “Daar kan geredeneer word dat dit elkeen se grondwetlike reg is om te besluit wanneer en hoeveel alkoholiese drank hy wil koop. Ongelukkig is alkohol nie ‘n voedsel nie, maar ‘n dwelm en die misbruik daarvan het verreikende gevolge op finansiële en sosiale vlak en veral in terme van misdaad en padongelukke.
“Baie mense meen dat beperkende wetgewing veroorsaak dat meer drank onwettig verkoop word. Navorsing dui egter dat beskikbaarheid en die prys van ‘n produk ‘n groot invloed op verkope het. Al wie werklik gaan baat is drankwinkels wat meer wins gaan maak.”

Lees meer: Gemeenskapsveiligheid LUR mnr. Vusi Shongwe het in die week drankverkopers gevra om nie aan kinders drank te verkoop nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button