Hard newsNewsNewsUpdate

Mpumalanga Rugby-unie eerbiedig nie hooggeregshofbevel

Die kostes beloop al meer as R500 000 omdat hulle rente moet betaal en vir ons regskostes ook aanspreeklik is

MBOMBELA – Daar word nou ‘n aansoek gebring om Mpumalanga Rugby-unie te laat likwideer nadat dit, ondanks ‘n hooggeregshofbevel, steeds versuim het om ‘n maatskapy te betaal vir dienste wat al in 2010 gelewer is. 

Die unie skuld Khanda Seating R286 767 vir 2 700 stoele wat by Puma Atlantic Stadion in eMahlaleni geïnstalleer is. Dit is kort voor ‘n internasionale toetswedstryd tussen Suid-Afrika en Italië gedoen. Die maatskappy was later raadop en het hom tot die Gautengse hooggeregshof gewend om die unie sover te kry om te betaal.

Nkangala-munisipaliteit is as ‘n derde party by die hofsaak betrek deurdat die unie toe voorgehou het dat dit vir die kostes aanspreeklik gehou moet word.

Die hof het egter in Khanda Seating én die munisipaliteit se guns beslis. Mnr. Koos Kruger, hoof-uitvoerendebeampte van die unie, is telkens tydens die uitspraak as die sondebok uitgesonder. Hy het namens die unie met Khanda Seating onderhandel en die munisipaliteit was nooit ter sprake nie. Enigiets bo R200 000 moes in elk geval op tender uitgaan. 

Luidens hofstukke het Kruger boonop gewéét dat die unie nooit vir die stoele sou betaal nie omdat dit nie die geld gehad het nie. Laevelder het sedert die uitspraak in Augustus vergeefs probeer om te hoor of daar stappe teen Kruger geneem gaan word en hoé die unie sy rekening gaan vereffen.

President van die unie, mnr. Hein Mentz, het aanvanklik gesê dat dit eers die hofuitspraak gaan bestudeer voordat dit teen Kruger sal optree. Toe Laevelder hom ‘n tweede keer hieroor pols, het hy uitgevaar teen die koerant en dit van ‘n “persoonlike vendetta” beskuldig. Hy het toe nog per e-pos laat weet dat die unie die geld elektronies aan Khanda Seating sou oorbetaal.

Mnr. Sidney Robson, besturende direkteur van die maatskappy, het egter gister aan Laevelder bevestig dat die unie nié betaal het nie. “Die kostes beloop al meer as R500 000 omdat hulle rente moet betaal en vir ons regskostes ook aanspreeklik is. Hulle het tot 12 September tyd gehad om te betaal. Ons regsverteenwoordigers gaan nou ‘n aansoek bring dat die unie gelikwideer word. Daar moet maar op hulle bates beslag gelê word as dit moet,” het Robson moedeloos gesê.

Mentz het ‘n derde keer by navraag laat hoor dat hy die saak as afgehandel beskou en geen verdere kommentaar gaan lewer nie. 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button