
‘n Verdagte is verlede Dinsdag gearresteer nadat hy glo ‘n afstandbeheerder gebruik het om ‘n skootrekenaar uit ‘n voertuig te steel. Mnr. Jacques Meiring van Bossie’s Community Justice (BCJ) was op die toneel in Citrus Crescent.
Volgens hom het die verdagte ‘n afstandbeheerder gebruik om die sein van die motoralarm te neutraliseer en sodoende te verhoed dat die voertuig sluit.
“Die verdagte is gewaar waar hy by die straat afgehardloop het. ‘n Lid van die publiek het hom agternagesit en platgedruk,” het Meiring vertel. BCJ en die SAPS is na die toneel ontbied. Teen druktyd was die verdagte steeds in aanhouding.
Meiring raai die publiek aan om meer oplettend te wees wanneer hulle hul voertuie sluit.
“Maak seker die deure is gesluit voordat jy loop,” sê hy. Dié rowers hou motoriste in parkeerareas dop en slaan dan toe wanneer hulle sien dat motoriste haastig is.
