‘n Inwoner van die Uitsig Landgoed het Saterdagoggend groot geskrik toe sy wakker word en twee rowers by haar kamerdeur aantref.
Volgens mnr. Jacques Meiring, operasionele bestuurder van Bossies Community Justice (BCJ) wat op die toneel was, het die verdagtes toegang tot haar erf gekry en kon hulle om ongeveer 02:45 ‘n stoepdeur wat na haar kamer lei, oopkry. “Hulle het die stoepdeur oop geforseer. Gelukkig was die glasdeur aan die anderkant gesluit,” het Meiring verduidelik.
Die vrou het wakker geskrik en begin skree. Die verdagtes het te voet gevlug en in sekuriteitswagte vasgehardloop.
Een verdagte is gearresteer, maar die ander het losgekom nadat hy die wagte aangeval het. Meiring vermoed dat dieselfde mans by minstens sewe ander huisbrake in die area betrokke is.
Meiring moedig die publiek aan om meer bewus te wees van wat om hulle aangaan. Hy het opgermerk dat inwoners nie die regte beligting het nie en sommiges nie gordyne in sekere vertrekke het nie.
Dit is belangrik om jou huishoudelike inhoud te beskerm.
“Daar moet streng kontrole deur sekuriteit gehou word wanneer mense in en uit komplekse beweeg,” het hy aanbeveel. Die verdagte is steeds in aanhouding.
