
Op 18 September is ‘n jongman vasgebind en moes hulpeloos toekyk hoe ‘n groep rowers sy gesin se huis in die Plaston-omgewing leegdra.
Zandré O’Connell (20) was die aand alleen by die huis en het op die bank aan die slaap geraak ten tyde van die voorval. Hy het om 19:00 wakker geskrik toe die mans die deur oopbreek, waarna hulle hom geslaan en met elektriese koord vasgebind het. Een van hulle het hom beveel om te sit en by hom gebly terwyl die ander die huis geplunder het.
Al die laaie en kaste is uitgegooi en selfs ‘n kruiwa en duvets is gebruik om die buit weg te dra.
Die man wat by O’Connell gebly het, het later die ander gaan help. Dis toe dat hy die kans waag om los te kom en het kombuis toe gehaas. Hy het ‘n mes wat langs die broodblik gegryp, en sonder om te kyk een van die rowers uit noodweer gesteek. Toe hy skree, het ‘n ander ingestorm en O’Connell met ‘n 9mm-pistool oor die kop geslaan. Toe hy gaan lê het die groep mans hom geskop en hy het net begin bid. Na ‘n ruk is die mans weg en het hy ‘n voertuig hoor wegry. Toe O’Connell opstaan, het hy besef dat sy karsleutels en selfoon nog in sy broeksak was. Hy kon in die chaos nie onthou waar dit was om dit aan die rowers te oorhandig nie.
Hy het sy ouers net na 23:00 gebel, en hulle het sy ouma sowel as ander familielede wat in Rocky Drift woon, gevra om hom te haan help. Hulle het soontoe gejaag, en toe hulle hom by die ingangspad kry, het hy inmekaargesak.
Volgens sy ouma, me. Marlene Jacobs, het die werf teen 23:40 gewemel van polisie- en sekuriteitsbeamptes. J&M Sekuriteit, die SAPD, speurders, die hone-eenheid, plaasbeveiliging en ER24-ambulansdienste was op die toneel. Selfs die forensiese eenheid het uitgekom om ondersoek in te stel, en almal is eers teen 03:30 weg.
Die rowers het elektroniese toerusting, kombuisware en enigiets wat waardevol was, gesteel. Hulle het selfs vleis, koeldrank en kos uit die vries- en yskaste gehaal. “En wat ook al hulle nie gesteel het nie, het hulle gebreek,” het Jacobs gesê.
Die familie wil graag al die beamptes vir hul hulp en bystand bedank en sê hulle hoop die ondersoek verloop net so flink. “Mense kan gerus op die polisie se knoppie druk wanneer hulle in die moeilikheid is. Ons het nou gesien hoe flink en professioneel hulle is.”
Hulle het nooit verwag dat dié voorval sou plaasvind nie, aangesien hul huis redelik versteek tussen die makadamiabome is. Volgens Jacobs het selfs die polisie en nooddienste op pad na die toneel verdwaal. Die familie maan mense om meer veiligheidsbewus te wees deur van alarmstelsels gebruik te maak en by die plaaslike buurtwag of gemeenskapspolisiëringsforum aan te sluit.
Die polisie is tans besig om die voorval te ondersoek.
