MBOMBELA – ‘n Vermeende bedrieër wat op plaaslike bodem van bedrog aangekla word, het verlede week in die hof in Gauteng verskyn.
Mnr. Derek Poole was amper twee weke in KwaZulu-Natal se polisie se aanhouding sedert hy op 20 September in Durban in hegtenis geneem is. Dit was uitgevoer op grond van ‘n gereaktiveerde lasbrief wat uitgereik is nadat Poole vroeër die jaar versuim het om vir sy bedrogverhoor in Gauteng op te daag. Hy word in die Wynberg Landdroshof aangekla en was uit op borgtog.
Poole word ook in Hazyview van bedrog aangekla en staan in die Nelspruit Landdroshof tereg op klagtes van bedrog en aanranding. Hier is hy ook vir sy laaste twee hofdatums afwesig gemerk.
Laevelder probeer al sedert sy laaste hofverskyning om met Poole in kontak te tree. Hy was nie beskikbaar op enige van sy bekende kontaknommers nie. Die koerant kon egter verlede week daarin slaag om met Poole, in polisieaanhouding, op sy selfoon te praat. Hy het alle navrae na sy regsverteenwoordigers verwys.
Die ondersoekbeampte in Gauteng, sers. Goodwill Ramagweja, het vroeër die week aangedui dat Poole al teen verlede Woensdag in die hof sou wees. Hy het egter Woensdag gesê dat dit logisities onmoontlik was en dat Poole Donderdag in die hof sou verskyn. Dit het toe so uitgewerk en die saak is uitgestel tot more (Dinsdag).
