Editor's choiceHard newsLocal newsNewsNewsSchools

Vrae oor speelgroep na hond se byt

Van Staden het aan du Toit gesê dat Tyla-Jayde glo vir die hond ‘n drukkie wou gee en dis toe dat hy haar gebyt het. “Sy het vir my gesê dat die hond toegemaak word. As ek nie gedink het dat dit veilig in die skool is nie, sou ek haar mos nie daar ingeskryf het nie.”

LYDENBURG – “Mamma, gesig gebreek, nie meer prinses nie.”

Dit is glo wat klein Tyla-Jayde du Toit (3) vir haar ma gesê het nadat ‘n hond haar verlede week by die Plaasjapies-speelgroepie in die gesig gebyt het.

Tyla-Jayde se ma, Nicci, het aan die koerant gesê dat haar kind slegs vier dae in die speelgroep was toe die voorval plaasgevind het.

“Een van my man se vriende se kinders is in die groep en ons het toe besluit om Tyla-Jayde ook in te skryf. Die eerste dag het goed afgeloop en sy was gelukkig. Verlede week Woensdag het ek en my man, Ryan haar trui en vrugtesap by die huis vergeet en dit gaan aflaai. Kort daarna het ons ‘n oproep ontvang dat ons dadelik skool toe moes kom. Met ons aankoms, het Tyla-Jayde op die eienaar van die groep, Lelanie van Staden, se skoot gesit. Dit is toe dat ons uitvind dat ‘n hond vir Tyla-Jade in die gesig gebyt het.”

Sy vertel dat sy begin gil het van skok toe sy haar kind se gesig sien. “Dit is my baba. Ek het twee miskrame gehad voor ek haar gehad het. Ons het haar na dokter Thomas Barton gevat waar sy ‘n steek gekry het.”

Van Staden het aan du Toit gesê dat Tyla-Jayde glo vir die hond ‘n drukkie wou gee en dis toe dat hy haar gebyt het. “Sy het vir my gesê dat die hond toegemaak word. As ek nie gedink het dat dit veilig in die skool is nie, sou ek haar mos nie daar ingeskryf het nie.”

Du Toit se man meen dat dit eintlik ‘n ongeluk was wat gewag het om te gebeur. “Daar is baie nagevolge hieraan verbonde. My kind wil niks meer te doen hê met die klein hondjie wat sy voor die voorval as geskenk gekry het nie. Sy ondergaan ook terapie en die byt gaan beslis ‘n merk op haar gesig los,” sê Du Toit.

Steelburger/Lydenburg Nuus het met Van Staden oor die voorval gepraat. “My woorde aan Nicci was dat ek ‘n kamp gaan bou sodat die hond deur die dag toegemaak kan word. Die oggend toe sy die kind aflaai, het ek vir haar gewys, met twee ooggetuies, dat daar ‘n rol draad is wat gister afgelewer is. Ek het nooit aan haar genoem dat die hond toegemaak word nie. Die hond het grootgeword saam met die kinders. Hy is altyd tussen hulle.”

Van Staden sê dat sy nie presies seker is wat op die betrokke oggend gebeur het nie. “Sy beskuldig my daarvan dat ek sê dit is haar skuld. Ek het vir niemand die skuld gegee nie. Die kinders was besig om te eet en ek het die hond kombuis toe gevat om vir hom sy kos te gee. Die volgende oomblik was Tyla-Jayde daar en wou sy vir hom ‘n drukkie gee. Ek dink hy het geskrik. As jy na die merke op haar gesig kyk sal jy sien dat dit net sy bo-tande was wat haar gebyt het. Dit was ‘n ongeluk.”

Die hond, Dekota, is ‘n Australiese beeshond. Hulle word spesiaal geteel om beeste aan te jaag en het Dingobloed in hulle. Dingo’s is op hul beurt ‘n sub-spesie van gryswolwe.

Van Staden sê dat sy Dekota al sedert Februarie het. “Ek het hom op nege weke gekry.”

Sy sê dat die hond dadelik verwyder is. “Ek het dadelik opgetree. Ek moes my baba weggee.”

Van Staden is nie as ‘n kleuterskool geregisteer nie. “Ek het minder as 20 kinders dus het ek nie nodig om te registreer nie.”

INFO BLOCK

Die koerant het ‘n afskrif van die wet op die standaarde van gesondheidsverorderinge vir voorskoolse inrigtings van Thaba Chweu bekom. Luidens die verslag “moet die perseel geheel omhein wees met ‘n goedgekeurde muur of ander goedgekeurde omheiningsmateriaal ten einde te voorkom dat ‘n kind die perseel op sy eie verlaat en dat huisdiere die perseel binnekom. Geen skadelike of giftige plante of struike word op die perseel toegelaat nie en geen dier mag sonder die toestemming van die hoof van gesondheidsdienste aangehou word nie. Kinders moet toereikend beskerm word teen dit wat vir enige kind gevaarlik kan wees of hom kan beseer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button