
MBOMBELA – Lede van die Laeveldse Houtdiefstalforum (LTTF) voel daar is nog geen afname in dié misdaad sedert hulle verlede maand hul kommer daaroor tydens ‘n vergadering met die polisie uitgespreek het nie.
Dié organisasie en die SAPD wys nou vinger na mekaar oor hoekom die probleem nog nie aangespreek is nie. Die forum was aanvanklik baie positief oor genl. PT Phahla, adjunk-kommissaris vir operasionele dienste in die provinsie, wat die vergadering bygewoon het. Hy was oop vir nuwe idees en was gretig om saam met die betrokke lede te begin werk.
Volgens me. Joey Lascelles, woordvoerder van die forum, was daar egter nog geen verwikkelinge sedert die vergadering nie. “Hulle kan miskien besig wees met iets waarvan ons nie bewus is nie,” sê Lascelles. Sy het op 25 September aan Phahla ‘n e-pos gestuur waarin sy verduidelik het dat hulle nie gelukkig met die huidige situasie is nie, maar het tot op datum nog geen terugvoer ontvang nie.
Verlede maand het ses gewapende rowers op verskeie plekke in die Barberton-, Hazyview- en Sabie-gebied toegeslaan en 62 kragsae gesteel. Volgens die LTTF open hulle sake, maar word dit nooit ondersoek nie.
In die vergadering het Phahla sy spyt oor die situasie uitgespreek en aanbeveel dat LTTF, bosbouers en die polise doodeenvoudig net sal móét begin saamwerk. Hy het ook belowe dat daar ‘n offisier aangestel sal word om net dié soort sake te hanteer. “Ons het probeer, maar nie hard genoeg nie,” het Phahla gesê. LTTF het ook voorgestel dat hulle ten minste een keer elke twee weke vergader. Volgens mnr. Pieter Kruger, ‘n lid van LTTF, het hulle al twee keer operasies gereël om dié diewe vas te trek, maar die polisie het nie opgedaag soos hulle belowe het nie.
Volgens Phahla het LTTF nog nie die offisiere wat die sake moet hanteer, geïdentifiseer nie. Hy het ook bygevoeg dat hulle besig was om “aan die ander probleme te werk”. Lascelles het hierop geantwoord dat hulle uiteraard nie by magte is om die offisiere te identifiseer nie. “Die offisiere werk tog vir Phahla, hy moet hulle mos aanstel om die probleem te takel.”
