
MBOMBELA – Die VF Plus het gister ‘n beroep op die regering gedoen om sterk in te gryp voordat die poskantoor stakings landwyk dieselfde vlakke van intensiteit en geweld bereik as in Gauteng.
Die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie, Advokaat Anton Alberts, het gesê dat die betrokke vakbonde, onder wie die Communication Workers Union (CWU), hul lede in skrywes aanhits om ‘gereed te maak vir oorlog’.
“Intussen word voorvalle van geweld reeds oor die hele land aangemeld. Voertuie word uitgebrand, poskantore en poskantoor-eiendom word beskadig en posstukke word rondgestrooi en vernietig.
“Mense wat nie aan die staking deelneem nie se huise word toenemend aan die brand gesteek, vroue word by taxi-staanplekke gemolesteer en dreigemente en intimidasie vier hoogty. Selfs hoofkantoor-personeel word deur stakers verhinder om die gebou binne te gaan,” het adv. Alberts gesê.
Adv. Alberts het verduidelik dat CWU aan op ʼn verhoging van 15% aandring terwyl die poskantoor blykbaar ʼn syfer van nader aan 5% op die tafel het. “Hierdie eis is totaal absurd gegewe die feit dat die poskantoor op die rand van bankrotskap is en dit is duidelik dat die staat onverwyld sal moet ingryp om die krisis te beredder voordat die organisasie se wiele heeltemal tot stilstand gedwing word.”
“Die poskantoor bly ʼn essensiële kommunikasiestelsel waarsonder Suid-Afrika weerloos gelaat sal word en nie behoorlik sal kan funksioneer nie. Dit kan nie bekostig word nie,” het adv. Alberts gesê.
Read previous article here:
Post office strike: No end in sight
