MBOMBELA – Die plaaslike munisipaliteit het minder as drie weke om inligting rakende hul konstruksiekontrakte aan AfriForum te oorhandig.
Waarnemende regter adv. David Unterhalter het Woensdagoggend in die Pretoria Hooggeregshof in die forum se guns beslis en die munisipaliteit beveel om binne 15 dae inligting rakende die tenderkomitee se uitgee van sekere tenders aan die organisasie te oorhandig.
Mnr. Ruan Lottering, AfriForum se provinsiale koördineerder in Mpumalanga, het verduidelik dat hul aansoek spesifiek van toepassing is op die notules van vergaderings en die name van mense wat op konstruksietenderkomitees sedert 2011 gedien het.
“Ons is van mening dat die tenders wat uitgegee is baie hoër as die bedryfstandaarde is en ook aan ongekwalifiseerde kamerade van die munisipaliteit en tenderkomitee gegee is. Die munisipaliteit het alles probeer wegsteek, en nadat AfriForum die hof genader het, beweer dat die openbaring van die inligting die lede van die tenderkomitee sou benadeel,” het Lottering gesê.
Die burgerregteorganisasie wou in terme van die bevordering van toegang tot inligtingswet die inligting bekom. “Mbombela-munisipaliteit het die proses egter so frustreer dat dit ons genoop het om die hof daarvoor te nader.” Hy sê die proses sloer al sedert 2012.
Die regter in die saak het na wat verneem word in die uitspraak gesê dat sulke komitees en vergaderinge nie geheim gehou moet word nie en dat dit onaanvaarbaar is dat Mbombela dit geheim probeer hou het.
Volgens AfriForum se regsverteenwoordiger adv. Johan Hamman, is dit ‘n geskiedkundige uitslag. “Hopelik sal dit munisipaliteite oor die hele land twee keer laat dink voordat hulle skelm tenders wil uitdeel, aangesien dit nou alles openbaar gemaak kan word, en indien daar bedrog of korrupsie plaasvind, kan instansies soos AfriForum vinniger en meer effektief teen die skuldiges optree.”
Hulle het in ‘n verklaring gesê hulle beplan om die inligting te gebruik om sake teen mense in die munisipaliteit te maak wat hulleself aan bedrog en korrupsie met die uitdeel van tenders skuldig gemaak het.
