
KAAPMUIDEN – Min mense oorleef ‘n luiperdaanval en kry die kans om hul verhaal te vertel.
Vir die bekende Onderberg-boer, mnr. Danie van Graan, is dit pure genade dat hy verlede week, ure nadat dieselfde luiperd sy aanneem-seun doodgemaak het, uit die dier se kloue ontsnap het. Gisteroggend het Van Graan, wat die afgelope naweek vir mnr. Mageka Ntuli (30) moes begrawe, met Laevelder gesels oor wat presies verlede Maandag in die berge naby Kaapmuiden gebeur het.
Ntuli is die oggend veld toe om ‘n rooibok te gaan skiet. Daar word vermoed dat die luiperd in ‘n gat in die koppie waarteen Ntuli opgeklim het, weggekruip het. Hy is hier aangeval. “Ek dink hy het twee skote met sy jaggeweer geskiet en dit toe met die handwapen opgevolg. Ntuli kon die dier afskrik, maar hy was egter ernstig beseer. ‘n Verbyganger het hom hoor gil en het self ook die luiperd in die gras daar naby sien lê. Die man het Ntuli op sy rug getel en tot by sy (Ntuli) bakkie gedra. Die weldoener het toe met hom na die Kaapmuiden-kliniek gejaag en hy is vandaar per ambulans Rob Ferreira Hospitaal geneem.
Intussen het Van Graan van die voorval gehoor en is saam met die weldoener terug na die toneel. “Ek het in die gat ingekyk waar die luiperd gewaar is en die volgende oomblik het die dierasie my bespring. Die dier was maar so 12 duim van die geweerloop af toe ek die sneller getrek het.”
Die 85kg-luiperd is in die bors getref en het bo-op Van Graan beland. Op daardie oomblik was hy net bly dat hy oorleef het. Hy was onder die indruk dat Ntuli erg beseer is, maar nie noodwendig in lewensgevaar verkeer het nie. Hy is Dinsdag vroeg hospitaal toe waar ‘n verdere skok op hom gewag het.
Hiér het hy Ntuli steeds in die ongevalle-afdeling gevind waar hy besig was om stuiptrekkings te kry. Die jongman het ook ophou asemhaal en daar was aanduidings dat hy dalk kopbeserings opgedoen het. Van Graan het dadelik mond-tot-mond asemhaling begin toepas en toe “begin personeel rondspring om te help”.
Teen dié tyd het Ntuli hom glad nie meer herken nie en is hy na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas. Hy is Woensdagoggend daar oorlede.
‘n Emosionele Van Graan het gister gesê.” “Ek het ‘n wonderlike persoon verloor.” Hy het Ntuli van kleins af grootgemaak. Hy was ‘n professionele jagter wat die Emonyeni Lodge (wat voorheen aan Van Graan behoort het) bestuur het en op sy safari’s gejag het. “Hy was baie goed met mense en baie gelief, veral onder ons oorsese kliënte.”
Die luiperd se karkas is na Mpumalanga Parkeraad geneem om toetse te doen om vas te stel of dit nie moontlik hondsdolheid gehad het nie. Dit is glo nie in hierdie diere se aard om mense aan te val nie.






