
MBOMBELA – Respek. Dit is die eerste gedagte wat by ‘n mens opkom wanneer jy jouself vir ‘n naweek in die geselskap van noodhulpdienste bevind. Daagliks spandeer hulle eindelose ure aan diens waar hulle hul eie lewens op die spel plaas om ander lewens te red.
André Denysschen is al sowat twee jaar by Netcare 911. As ‘n sogenaamde Gevorderde Lewensondersteuningsparamedikus (ALS) het hy deur die loop van Vrydag vier ongelukstonele bygewoon. Hy sê dis gemiddeld vir ‘n dag. Die aand kom en hulle kry ‘n oproep van ‘n insleepdiens (wat gewoonlik eerste op ‘n ongelukstoneel is) dat ‘n kar gerol het.
Die ambulansbemanning – ‘n basiese lewensondersteuningsparamedikus (BLS) en ‘n intermediêre een (ILS) los die snoekerwedstryd waarmee hulle hul tyd in Netcare se radiokamer verwyl en spring dadelik in hul voertuig terwyl Denysschen in sy motor hop.

Hy kan vinniger ry en as die mees gekwalifiseerde reddingswerker dus voor die ambulans op ‘n toneel wees. Sy rooi ligte is aan, sy sirene loei, maar om vanaf Sonpark-sentrum in die verkeer op Madibarylaan in te kom is moeilik. Motoriste gee hom nie ‘n gaping nie maar ry net oor die verkeerslig wat vir hulle groen is. Volgens wet moet jy voor só ‘n voertuig pad gee, maar Denysschen sê kruisings is die gevaarlikste, selfs al is die lig vir hom groen.
Op die N4 is die storie dieselfde en ‘n taxi wat ‘n vragmotor verbysteek draai reg voor die jaende voertuig in. Die spoedmeter klim tot 180km/uur en 20 minute later is ons op die toneel 45 kilometer van die hoofkwartier af. Die bestuurder van die gerolde motor het bloot beheer oor sy voertuig verloor en is ongedeerd – so die bemanning keer terug kantoor toe – hierdie keer teen ‘n rustiger pas en sonder sirenes.
Sien video hier:
“Ons het nou ons lewens op die spel geplaas deur so te jaag – vir niks nie,” sê Denysschen. “Jy weet nooit wat jy op ‘n toneel gaan aantref nie. As daar wel beseerdes is, is dit noodsaaklik dat hulle so gou as moontlik mediese sorg ontvang, veral as dit ernstig is. Dis presies wat net na middernag die aand gebeur toe nog ‘n kar rol.
Die ergste ongeluk waarop hy gereageer het was die een by Hectorspruit waar ‘n trein met ‘n vragmotor gebots het. Negentien mense is in die ongeluk dood. “Dit was een van die grusaamste goed wat ek al ooit gesien het en ek het al baie dinge gesien. Ek het stukke van hierdie mense vir 200 meter ver gesien lê. Dit was soos om ‘n blikkie kos met ‘n krieketkolf te moker.”
“Ek het besluit dat al die kritieke pasiënte na my gebring moet word om te behandel, omrede dit tyd sou spaar. Tyd is ‘n baie belangrike faktor vir mediese noodsorg. Elke minuut wat verbygaan het die beseerde 10 per sent minder kans om te oorleef.”
Wanneer pasiënte bygebring word is dit ook nie noodwendig ‘n teken van sukses nie want hulle oorleef op die lang duur dikwels nie hul beserings nie. “Ons beskou ‘n suksesvolle resuscitation as wanneer die persoon uit die hospitaal uit loop.”
Denysschen sê as iemand se hart gaan staan maak dit ‘n groot verskil as ‘n omstander kompressie toepas terwyl hulle vir die nooddienste wag. Hy dink ook kinders behoort beasiese noodhulp al op skool te leer. Maar die meeste reddingswerkers se eerste kennismaking met dit is wanneer hulle in die rigting begin studeer.
Nadat ‘n mens ‘n graad verwerf het kan ‘n mens ‘n nooddienswerker word. Om ‘n paramedikus te word kan ‘n mens twee roetes volg – of ‘n nasionale diploma in mediese sorg of ‘n kritiese sorg-assistent. Volgens Denysschen kan ‘n mens slegs by ‘n paar uitgesoekte universitete ‘n vier-jaar B-Tech graad ontvang. Cape Peninsula University of Technology, Universiteit van die Vrystaat, Universiteit van Johannesburg (UJ), Durban Universiteit van Tegnologie en Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit.
Sien die verskille tussen hulle bevoegdhede hier.
“‘n Groot probleem is dat ons nogsteeds ‘n derde wêreld land is en dat daar ‘n tekort aan opleiding in Mpumalanga is. Die ouens wat alreeds in die sisteem is en basiese of intermediêre lewensondersteunende paramedikuste is, kan nou nie verder ondervinding opdoen nie aangesien hulle weer moet gaan studeer. Eerstens moet hulle ver reis en hul huis en kinders verlaat om te gaan studeer – sonder betaling.”
Volgens Denysschen moet elke paramedici soos ‘n dokter of verpleër ook jaarliks by die Raad vir Gesondheidsberoepe herregistreer teen ‘n vasgestelde bedrag wat dan elke jaar vir lidmaatskapdoeleindes betaal word. “Die persentasie paramedici in vergelyking met basiese ambulansassistente is groot. ‘n Groot probleem is dat ouens minder praktiese ervaring opdoen.”
Tonele word ook nie tot padongelukke beperk nie. Saterdag word die span uitgeroep na ‘n beweerde aanranding in Mataffin. Die man is egter nie beseer nie, maar net dronk en aan die slaap. Sy kopwond is vlak en die bloed het al begin stol. “As ek niks hoef te doen nie, hoef jy nie te bekommer nie,” verduidelik Denysschen die erns van die saak.
Shaelene Casals (‘n BLS), sê dronk mense is soms baie snaaks. En mense se beserings is dikwels van valle. Maar ander goed is ontstellend, soos tieners wat selfdood pleeg. Een hartseer aspek van Denysschen se werk is om te sien hoe kinders se lewens verwoes word. “Dit is nie lekker om te sien as ‘n kind ernstig seerkry nie. Hulle het hul hele lewe om na uit te sien en dan is dit nie eers hul skuld nie.”
Quinton de Cruz, ook ‘n BLS en Marius Fouché ‘n ILS, beaam dat hulle soms met die donker kant van mense gekonfronteeer word en dat ‘n makaber sin vir humor ‘n mens help oorleef. En soos Fouché sê, “Jy moet ‘n passie hê om mense te help. Daar was nog nie een dag wat ek nie lus was om werk toe te kom nie.”
Netcare 911 se dienste is egter nie verniet nie. Casals sê hulle weier niemand ooit sorg op ‘n toneel nie, maar waarsku pasiënte sonder mediese dekking dat hulle ‘n rekening sal kry vir die vervoer hospitaal toe. En soms is hierdie vervoer Pretoria toe. Desiré Denysschen, André se vrou en ‘n BLS, moes juis Vrydagaand ‘n pasiënt van Lydenburg na Steve Biko Akademiese Hospitaal vervoer – en toe omdraai en terugry.
André het self eers 05:00 in die bed gekom na al die ongelukke die aand, net om weer 08:00 op sy pos te wees. Respek.




