Community galleriesEditor's choiceEnvironmentalGalleriesLocal newsNewsNews

Luiperd kry ‘n kans op oorlewing

Die wyfie het ‘n skamele 17kg geweeg en volgens Camacho moes haar gewig dubbel dit gewees het, omtrent 40kg. “Dit is ‘n aanduiding van hoe ernstig haar toestand is. Die dier is al deur baie,” meen hy.

LYDENBURG – ‘n Jong luiperdwyfie, in ‘n uiters gehawende toestand, is Woensdag op ‘n plaas by Walkersons naby Dullstroom gevind.

Mnr Gerrie Camacho, plaaslike roofdierkenner, is uitgeroep om dié dier te verdoof en te verwyder.

“Sy was vreeslik ontwater. Sy het op die plaas opgedaag en werkers kon daarin slaag om haar met pikke en grawe tot in ‘n stoor te jaag. Daar het sy agter ‘n trekkerwiel geskuil.”

Hulle het eers gedink dit is n rooikat en het die bestuurder, mnr. Tobie van Niekerk, gaan roep.

Dit is eers ná Camacho die luiperd verdoof het, dat hy die omvang van dié dier se toestand besef het.

Die wyfie het ‘n ou skietwond (omtrent drie weke oud), aan haar skouer gehad. Die koeël het haar skouer laat splinter met die gevolg dat sy nie behoorlik kon loop of jag nie. Behalwe vir die skietwond, het die dier boonop ook in ‘n strik beland, moontlik om te aas aan die kos wat daar uitgesit is.

“Ek glo nie dat sy te lank in die strik was nie. Ek het eers gedink dat ‘n kar haar moontlik gestamp het, maar tydens die ondersoek het ek die ou skietwond ontdek. Sy is ongeveer vier jaar oud, maar is in ‘n vreeslike swak toestand.”

Camacho het die luiperd na Sterkspruit Dierekliniek geneem waar veeartse drs. Anthony Davis, Phillippa Colly, David Huchzermeyer en Brian Chester Browne dadelik aan die werk gespring het om haar te behandel.

Camacho sê dat die veeartse by dié dierekliniek gratis mediese behandeling en medikasie voorsien vir wilde diere wat hy na hulle neem. “Hulle is nog altyd baie behulpsaam met verskeie beseerde diere en skroom nie om in die middel van die nag uit te kom nie.”

Die wyfie het ‘n skamele 17kg geweeg en volgens Camacho moes haar gewig dubbel dit gewees het, omtrent 40kg. “Dit is ‘n aanduiding van hoe ernstig haar toestand is. Die dier is al deur baie,” meen hy.

X-straalplate is geneem van die skouer en veeartse het bevestig dat die hele scapula (skouerblad) af is. Fragmente van die koeël is ook in die weefsel gevind.

Die veeartse en Camacho moes na die ondersoek ‘n moeilike besluit neem oor die dier se toekoms. Die moontlikheid dat sy uitgesit kon word, was baie groot. Camacho en die veeartse het besluit dat die dier ‘n kans op oorlewing gegun moet word. Sy is na die behandeling deur Camacho na die Maholoholo-rehabilitasiesentrum geneem. Sterkspruit het al die medikasie insluitend antibiotika, anti-inflamotoriese en verdowingsmedikasie voorsien.

Die wyfie, wat Sindile (oorlewende in Zulu) gedoop is deur die personeel van Walkersons, is dadelik gemaklik gemaak in ‘n hospitaliseringshok by Moholoholo. Volgens Camacho was sy so uitgeput dat sy omtrent glad nie extra immobiliseringsmiddels op die pad nodig gehad het nie.

“Die veeartse het haar van twee drups voorsien wat heelwaarskynlik krities was om haar te versterk. Sy was so honger dat sy reeds in ‘n verdoofde toestand die vleis wat netjies fyn gesny was en ‘n meter vanaf haar neergeplaas was, geruik het en in ‘n beswymelde toestand nadergekruip en begin vreet het. Alhoewel sy aggresief was as sy genader is het sy angstiglik gevreet elke keer as sy vleis gekry het. Sy het heel waarskynlik drie weke lank geen kos gehad nie.”

Camacho sê dat sy op die oomblik baie goed vreet, maar nog rondval as sy op die beseerde been probeer trap. “Sy verstaan waarskynlik nog nie dat die been onbruikbaar is nie. Dr. Peter Rodgers gaan haar volgende week Woensdag die wyfie verdoof en weer verder ondersoek waarna ‘n besluit oor haar toekoms geneem sal word.”

Sterkspruit Dierekliniek het ‘n spesiale fonds vir roof-en wildediere wat mediese behandeling moet ondergaan. Enige iemand is welkom om ‘n bydrae te maak.Volgens Camacho word skenkings vir die duur medikasie aangewend en gee hulle professionele diens gratis.

Navrae:Sterkspruit Dierekliniek by 013-235-4132.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button