Local newsNewsNews

Bosch se kunswerk gaan VSA toe

Bosch het indrukwekkende keramiekmodules vir 172 Madison Laan in New York per kommissie geskep wat New Yorkers eersdaags onder oë sal hê.

WITRIVIER – Die Laeveld se bekende keramiekkunstenaar, Anton Bosch, se innoverende kuns gaan nou in die Verenigde State van Amerika vertoon word.
Bosch het indrukwekkende keramiekmodules vir 172 Madison Laan in New York per kommissie geskep wat New Yorkers eersdaags onder oë sal hê.
“Dit het my drie maande geneem om te skep. Dit was baie lang ure se harde werk, maar ek is heel tevrede met die eindproduk.”
Bosch gaan nou al die modules een vir een in houtkratte verpak en per pad na Oliver Tambo Internasionale Lughawe vervoer. Dié kunswerk gaan dan van daar af die verdere 12 840 kilometer tot by John F Kennedy internasionale lughawe in New York vervoer word. Volgens Bosch behoort dit twee tot drie dae voor Kersfees in New York te arriveer.
Die Israeli-Amerikaanse sakeman, Yitzchak Tessler is die ontwikkelaar van die gebou waar die kunswerk uitgestal gaan word. Hy het Bosch een oggend in Junie vanjaar gebel met ‘n versoek om ‘n keramiekpaneel vir sy gebou te skep.
“Ek het ‘n voorlegging vir hom opgestel en toe twee prototipes gestuur wat Tessler toe aanvaar het,” het Bosch vertel.
Bosch het op ‘n ontwerp besluit wat verskillende vorms en elemente bevat wat hy self geskep het. Elke individuele teël maak dan ‘n volledige kunswerk wat mooi in mekaar pas.
“Die hele kunswerk word uit keramiekklei geskep waar dit dan droog moet word. Die swart en glaserige voorkoms is te danke aan twee lae swart glasuur wat oor mekaar geverf word om diepte te gee.”
Alhoewel Bosch al voorheen op kommisie vir oorsese kliénte gewerk het is hierdie sy eerste kommisie op so ‘n groot skaal.
“Alles skep ‘n eenheid en dit is vir my ‘n baie indrukwekkende stuk. My gunsteling aspek van die kunswerk is die vier teëls wat saam met saam met mekaar ‘n sirkel vorm.”
Die kunswerk gaan in die voorportaal van hierdie 31-verdieping woonkompleks in die voorstad van Manhattan verskyn.
“Die ligte in die voorportaal wat op keramiekteëls gaan skyn gaan ‘n baie dramtiese effek skep om die driedimensionele vorms uit te lig,” het Bosch gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button