Local newsNewsNews

Drama kry kleur en vorm in haar ateljee

"Ek is mal oor improvisasie. Dit leer die kinders om uit hulle dop te kruip en hulle eie unieke styl te ontdek. Dit is ook dan waar hul ware kleure te voorskyn kom en waar emosie en passie oorneem."

MBOMBELA – In ‘n klein maar interessante kamertjie ‘n groot rots, ‘n paar stoele asook ‘n sagte rusbank. Teen die mure pryk uitgeknipte koerantberigte en ander gedenkstukke van die Laeveld se briljantste dramaleerlinge wat al met verloop van jare in hierdie einste kamer aan hul talent geskuur en geskaaf het totdat dit soos goud begin blink het.

“Welkom by my drama-ateljee. Hierdie muur is vol berigte van al my kinders se prestasies. Ek is so trots op hulle,” sê drama-onderwyseres, Frances van Niekerk, wat 11 jaar gelede met haar Finesse Drama Studio begin het om haar passie vir drama in ‘n lewenstyl vir haar dramaleerlinge te omskep.

“Ek was al van kleins af mal oor drama en was altyd by die eisteddfod betrokke. Ek het toe besef dat ek my eie drama-ateljee moet oopmaak.”

Haar eerste leerlinge het hoofsaaklik van Laerskool Bergland en Hoërskool Nelspruit gekom en namate hulle entoesiasme uitgebrei en hulle begin presteer het, het ‘n groter aanvraag na haar klasse ontstaan. “Ek help met drama by verskillende skole in die oggende en dan gee ek ook klas vir omtrent 60 kinders,” het sy genoem.

Frances is omtrent die hele dag besig met klasgee en om skole by te staan, maar glo dat dit nie soos werk voel nie. Haar toewyding aan die kinders kan ‘n mens opmerk met die indrukwekkende lys suksesse wat sy op haar kerfstok het.

Tydens verlede jaar se eisteddfod in Mbombela het haar dramaleerlinge altesaam 100 A++-simbole verwerf. By die Nasionale Eisteddfod Akademie (NEA) se nasionale ronde het hulle 49 A++-simbole ingepalm. Frances se dramastudio het ook die eerste plek vir die algehele beste prestasie by die NEA in 2013 gekry.

Buiten al die plaaslike toekennings het haar dramastudio ook die geleentheid gehad om internasionaal erkenning te kry toe van haar leerlinge by ‘n aanbieding van Actors, Models and Talent for Christ (MATC) in Orlando in die VSA opgetree het.

Volgens Frances is die korrekte asemhalingstegniek, spraak en improvisasie van die belangrikste elemente wat ‘n uitstekende dramaleerling van ‘n goeie een onderskei.

“Ons werk baie aan spraak en emosie en hoe om verskillende bewegings te gebruik om die karakter op die verhoog tot sy/haar volle reg te laat kom,” vertel Frances.

“Ek is mal oor improvisasie. Dit leer die kinders om uit hulle dop te kruip en hulle eie unieke styl te ontdek. Dit is ook dan waar hul ware kleure te voorskyn kom en waar emosie en passie oorneem.”

Volgens Frances verkies sy dit meer om een tot een met ‘n kind te werk en sodoende sy goeie en swak punte raak te sien en daaraan te werk.

“Vir my gaan dit oor selfvertroue bou en nie noodwendig om elke leerling as ‘n professionele drama-ster eendag te sien nie. Daar is van hulle wat dit in hulle het, maar hulle hart sal een honderd persent in die beroep moet wees,” verduidelik sy die mededingendheid van hierdie kunsvorm.

“Ons doen baie navorsing en werk aan aksente om die karakter so na as moontlik aan die ware Jakob te laat kom.

Ek sal byvoorbeeld ‘n Hollandse vrou wat ek ken, inbring om haar aksent vir die kinders te leer as hulle die rol van ‘n Hollander moet vertolk. Verder sal ons ook die boeke lees en na opvoerings kyk om kennis op te bou,” verduidelik sy haar werkswyse.

“Ek is mal oor kinders en dit maak my hart bly as drama hulle die selfvertroue gee om beter in hul skoolwerk en lewe in die algemeen te vaar,” sê sy.

“Ek het nog steeds kontak met baie van my oudleerlinge wat my bel en van hul prestasies vertel en waarmee hulle deesdae besig is. Dit is lekker om daardie verhoudings te behou,” vertel sy.

Frances bestee ook baie tyd daaraan om haar leerlinge vir rolle wat hulle moet vertolk, gereed te kry, hetsy dit prosa, ‘n dramastuk of toneelspel is.

“Ek is ‘n baie stilistiese mens. Innerlike belewing is vir my baie belangrik en solank my leerlinge elke aspek geniet en dit hulle gelukkig maak, is ek gelukkig.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button