Hard newsNewsNews

Betreder word op kamera vasgelê

Die moontlikheid dat die man op die opname met die huisbraak verbind kan wees word ondersoek.

Slagoffers van ‘n inbraak was die naweek verstom om op hul sekuriteitskompleks se kringtelevisie te sien hoe ‘n man oor die muur spring, glo rondom die tyd wat hulle beroof is.

Kapt. Dawie Pretorius, woordvoerder vir Nelspruit Polisiestasie, sê hulle ondersoek die moontlikheid dat die man op die opname met die huisbraak verbind kan wees. ‘n Saak van huisbraak en diefstal word ook ondersoek nadat die Labuschagne-gesin Sondagoggend besteel is.

Me. Monique Labuschagne vertel sy en haar gesin het Saterdag by haar ouers se huis in die kompleks gekuier. Hulle het uitgegaan en kort na hul terugkeer gaan slaap. Die slaapkamers is op die onderste verdieping en die leefareas bo. Haar tannie het na die huis gekom.

“Ons het al geslaap toe sy by die huis aankom. Seker vyf minute later toe gaan die miniatuur-dobermann wat ek oral saam met my neem aan die blaf. Ons het hom probeer stilmaak. Ek dink die mansstemme het die dief, wat teen dié tyd seker al in die huis was, afgeskrik.”

Hulle vermoed dat die inbreker deur die onderste oop badkamervenster toegang tot die huis verkry het. Labuschagne voeg by, “Die huisalarm was nie aan nie.”

Die volgende oggend was ‘n selfoon, iPad, kameras, ‘n GoPro-kamera en kontant uit die boonste vertrekke weg. “Ons beraam die skade so ongeveer R40 000,” vertel sy.

Die video wys weer ‘n man wat net voor 02:00 oor die muur klim en blykbaar die sekuriteitskamera skuif. Later tel ‘n ander kamera hom op waar hy met ‘n sakkie loop voor hy weer kennelik aan die kamera peuter. Net na 04:00 kan gesien word hoe die figuur terugklim oor die muur.

Labuschagne vra dat enigiemand met enige inligting hulle by 082-855-7370 kontak.

Sien die video hier:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button