‘n Stampvol boeresaal het op 15 Januarie van die kommer getuig wat onder boere in die Hazyview-omgewing rakende grondeise heers. AgriKiepersol het dr. Theo de Jager van AgriSA genooi om ‘n inligtingsessie aan te bied om hul lede se vrese te besweer.
De Jager het eers breedvoerig oor landbou in die land gepraat en van die mees bekende kwessies aangeraak. Voedselsekerheid was eerste op die lys en hy het vertel dat die land een van die grootste verhoudings tussen produsente en verbruikers in die wêreld het. Waar die VSA ‘n 1:123 verhouding het, is daar in SA slegs een produsent vir elke 1 550 mense. Hy het ook genoem dat 28 persent van die land se boere 60 persent van die kos op die rakke produseer.
De Jager sê toe dat die invloed van die stakings in De Doorns aan die einde van 2012 aan boere getoon het dat die tydsberekening van arbeidsaksies ‘n hele sektor kan lamlê. Boere is gemaan om met hul werkers in gesprek te tree om frustrasie en hopeloosheid hok te slaan. “Die verwagtinge wat vir arbeid geskep is en die ekonomiese realiteite verskil. Hierdie verwagtinge is egter nie op die regering gefokus nie, maar op boere,” het hy vervolg.
Daarna het hy oor grondplafonne, wat behels dat boere slegs ‘n sekere aantal hektare mag besit, asook die omstrede voorstel dat 50 persent van elke plaas aan werkers gegee word, gepraat. Alhoewel die laasgenoemde steeds ‘n kwelpunt is, glo De Jager dat dit ‘n doodloopstraat is en net deur drastiese aksie kan gebeur.
Iets wat egter nou aandag geniet is hoofstuk ses van die nasionale ontwikkelingsplan. Die plan se doelwitte rakende grondeienaarskap kan behaal word as die regering nog 20 persent van elke distrik se grond kan bekom. Hierdie plan is egter op die verwagting gegrond dat dit vrywillig verkoop sal word en markwaarde betaal sal word. Boere, werkers, banke en finansiële instansies sal egter moet besluit watter 20 persent gegee word. Die staat sal dan die helfde van die waarde betaal en boere die ander, om seker te maak dat hulle steeds ‘n belang daarin het.
“As dit gedoen word, is daardie boere in lyn met die BEE-beginsels en word hulle vrygestel van enige onteienings,” vertel De Jager. Sommige produsente, veral groot maatskappye, glo dit sal baie probleme uitskakel, terwyl kleiner boere dit onmoontlik vind.
Projekte waar boere en grondeisers hande vat is ook nou onder die kollig, aangesien dit ontwikkeling aanhelp. Boere is egter gemaan om slegs betrokke te raak as dit vir hulle vanuit ‘n besigheidsoogpunt sin maak.
Boere het daarna ‘n kans gekry om aan De Jager vrae te stel en die eerste was of die plan rakende 20 persent grond deur die staat as grondhervorming aanvaar is. Hy het geantwoord dat dit op die tafel is, maar nie almal ingekoop het daarin nie. Aangesien grondeise weer tot 2019 oopgestel is, kan daar nie veranderings aan die huidige plan aangebring word nie. “Grondeise moet die laaste ding in boere se gedagtes wees. Hulle moet eerder net aanvaar dat elke plaas ‘n eis op het,” vervolg De Jager.
Die beginsels het egter verander om ‘n vals eis as ‘n kriminele oortreding te klassifiseer en is dit dus moeiliker vir individue om grond te eis.
Mnr. Ken Robertson van die DA het gevra hoekom daar net bewerkte grond geëis word, aangesien daar baie onbewerkte grond in die land is. De Jager vertel toe dat land net met kapitaal ontwikkel kan word en dat banke nie geld gee sonder iets as sekuriteit nie. Dus kan die grond nie gebruik word nie.
Die laaste vraag was rakende die plaas Burgershall wat in 2003 deur die Gibas geëis is. Die boere wou weet of hierdie plaas hulle tot voordeel strek in die 20 persent plan. De Jager het instemmend geantwoord en vertel dat die distrik se stastieke anders lyk. “Omdat daar ook grondhervorming plaasgevind het, is daar groter realisme onder die gemeenskap oor wat haalbaar is of nie. Daar is ‘n ander tipe debat as ‘we demand’, die gemeenskap vra om raad,” het hy afgesluit.
