Editor's choiceLocal newsNewsNews

Aspirant-aktrise se ster skyn al hoe blinker

Ti-Ané Labuscagne, ‘n gr. 11-leerling van Hoërskool Rob Ferreira is verlede week Randburg toe vir die verfilming van 'n nuwe Afrikaanse fliek.

‘n Plaaslike aspirant-aktrise gaan binnekort as ‘n ekstra in ‘n splinternuwe Afrikaanse fliek te sien wees en is baie opgewonde oor wat vorentoe op haar wag. Ti-Ané Labuscagne, ‘n gr. 11-leerling van Hoërskool Rob Ferreira is verlede week Randburg toe vir die verfilming van die fliek wat in Desember uitgereik word.

Sowat twee jaar gelede het Ti-Ané by ‘n modelagentskap aangesluit, maar in Oktober 2014 besluit om eerder na ‘n agentskap soos South Africa Modelling and Talent Castings and Shows (SAMTCS) te skuif.

Kort nadat sy aangesluit het, was sy gelukkig genoeg om ‘n plekkie as ‘n ekstra in die kykNET-sepie Binnelanders los te slaan. Dit was vir haar ‘n fassinerende ervaring en het haar passie vir drama weer laat opvlam. “Die hele opset het so lekker gelyk en almal het soos een groot familie opgetree. Dit het my konsep van drama verander en ek oorweeg dit nou om te gaan drama swot ná skool,” vertel sy. Sy was in Januarie vir ‘n tweede keer op stel en sal in ‘n hele paar episodes te sien wees.

Die rol as ekstra in ‘n fliek is vir haar ‘n heel nuwe ervaring en het haar die kans gegee om ‘n hele paar bekendes soos Paul Loots, Liz Meiring, Richard van der Westhuizen, Bouwer Bosch en Lika Berning in aksie te sien.

Ti-Ané vertel dat haar vriendinne baie opgewonde is oor haar rol in die fliek. “Ek dink hulle is meer opgewonde as ek om dit te sien en beplan om groot ophef daaroor te maak in die teater.”

Haar familie en vriende is baie nuuskierig oor haar werk, maar weens haar werkskontrak word sy nie toegelaat om te praat oor wat sy sien van die storielyn nie. “Dit is moeilik met Binnelanders, want hulle probeer alles uit my trek. Met die fliek weet ek self nie regtig waaroor dit gaan nie, aangesien ek net stukkies daarvan gesien het en net in sekere tonele was.”

Petro, Ti-Ané se ma, vertel dat familie en vriende haar mooi ondersteun en dat veral haar drie broers baie beskermend oor haar is. Haar jonger boetie spog ook gereeld met haar by sy skoolmaats en onderwysers.

Petro vertel dat sy gemoedsrus het dat haar dogter in goeie hande by SAMTC is en dat die werk Ti-Ané help om geld vir haar naskoolse studies te verdien. Sy glo dit dien ook as indiensopleiding en dat dit deure tot die vermaaklikheidswêreld vir haar sal open.

Ma en dogter is vol lof vir Ti-Ané se agent in Mbombela, Daleen Hillicks, en sê Ti-Ané word mooi opgepas en goed voorberei vir elke werk waarvoor sy moet aanmeld.

Beide ma en dogter vertel dat mense in die bedryf mal is oor Laeveld-kinders, veral dié van Mbombela en omgewing. Die kinders is bekend as talentvolle, gedissiplineerde, professionele mense. “Ek glo dissipline en opvoeding speel ‘n groot rol,” meen Petro en kyk na haar dogter. “Binnelanders se mense doen ook gereeld navraag oor die beskikbaarheid van Laeveld-kinders.”

Daar is tans heelwat in die vooruitsig vir Ti-Ané en haar ma vertel dat sy nog keer dat haar kind oorsee gaan werk. “Ek benut elke geleentheid wat ek kan, maar fokus nou hoofsaaklik op my skoolloopbaan. Tans moet ek leer vir die mini-eksamen wat Maandag begin het,” sê Ti-Ané.

Hou gerus Binnelanders oor die volgende paar weke dop wanneer sommige van die episodes waarin Ti-Ané verskyn, gebeeldsaai gaan word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button