AnimalsCommunity galleriesGalleriesLocal newsNewsNews

Heuning uiteindelik by haar nuwe huis

Heuning het die naweek van Mauritius af in Nelspruit aangekom.

MBOMBELA – ‘n Dolgelukkige Heuning het dadelik by haar nuwe huis in Suid-Afrika ingepas.

Dié langoorbrakkie het Saterdag in Johannesburg geland, nadat sy vir twee maande lank in Mauritius in kwarantyn was.

Haar nuwe eienaar, me. Lee-Ann Joubert (29), het haar laat invoer nadat sy haar tydens ‘n Desembervakansie op die eiland oor die hond ontferm het. Joubert is ‘n verpleegster in Mediclinic Nelspruit se kraamsaal. Sy het ongeveer R15 000 opgedok om die hond hier te kry, wat sterilisasie en alle behandeling in kwarantyn, insluit.

Toe Joubert een aand van die hotel se eetsaal na haar kamer terugkeer, het sy ‘n eienaardige klein swart hondjie onder ‘n tafel naby haar kamerdeur opgemerk.

“Ek weet nie wat dit omtrent dié hond was nie, maar dit is asof sy my aangeneem het. Nie andersom nie,” het Joubert gesê.

“Ek het ‘n baie klein hartjie as dit by diere kom. Dit was ‘n bloedige warm aand en ek het vir haar koue water gegee. Ek het geen kos in my kamer gehad nie, net ‘n pakkie aartappelskyfies. Sy het dit verslind asof sy nog nooit kos gekry het nie.”

Tydens haar vakansie in die hotel, het Joubert kos na haar kamer gesmokkel om die hond te voer. Sy was selfs al betrap en gewaarsku om dit nie weer te doen nie. “Ek het in elk geval aangehou.” Sy het heuning oor van die kos gegooi en die hond het dit heel eerste opgelek. “Sy was mal oor die heuning. Dit is waar sy aan haar naam kom.”

Heuning is glad nie bang vir mense nie, wat vir Joubert laat glo dat die dier nie mishandel was nie, “maar net geïgnoreer is”. Joubert sê Mauritius het ‘n vreeslike probleem met rondloperhonde. “Heuning was die kleinste en mees uitgeteerde van almal wat ek gesien het.”

Vandag is Heuning spekvet en gesond. Sy is baie aktief en lief daarvoor om saam met Joubert rond te ry, maar sy is ook nog ‘n bietjie stout. “Ek het haar amper gefoeter nét nadat sy hier aangekom het,” spot Joubert. Sy wys na die yslike gat in een van haar deure. “Sy mors glad nie in die huis nie, maar sy vreet alles op. Sy het ‘n bal en ‘n mat ook verskeur.”

Heuning het nie enige siektes onder lede nie. Joubert sê as OR Tambo se doeanebeamptes enige kwale opgemerk het, sou sy in Suid-Afrika ook onder kwarantyn geplaas moes word.

Sy is nou lid van ‘n familie van drie honde en sewe katte – almal reddingsgevalle. “Ek is verbaas dat sy so vinning by my ander diere ingepas het,” het Joubert gesê. “Ek was aanvanklik bang dat hulle haar sou byt, maar die meeste van hulle aanvaar haar. Dit is nou net Boude, een van my katte, wat haar so nou en dan jaag.”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button