
MBOMBELA – ‘n Vermeende swendelaar is weer besig om eiendomsagente se bloed te laat kook deur mooi broodjies te bak sonder om ooit ‘n koop deur te haak.
Volgens drie verskillende eiendomsagente wat al deur Mr José Romualdo Dias (48) se slimstreke gevang is, en anoniem wou bly weens hul verleentheid oor die aangeleentheid, moet ander agente ligloop vir sy sjarme.
“Hy is vernuftig met verskonings maak. Hy sou ‘n kontant-koopaanbod op ‘n eiendom maak. Wanneer die verkoper dit aanvaar kan jy nie aanhou kopers soek nie. Hy het net nooit betaal nie.”
Sy vertel hy het mense al uit hul “verkoopte” huis gesit het sodat hy kan intrek want sy geld is op pad uit die buiteland, of sy erfgeld word eersdaags uitbetaal, of hy het die Lotto gewen. En met sy moo praatjies het almal hom geglo. ‘n Ander agent wat in 2013/14 met Dias te doen gehad het, vertel hy het voorgehou dat hy baie welaf is.
“Hy het op sewe transaksies geteken maar kon nie een uitvoer nie. Volgens sy koopkontrak moes hy wel binne 30 dae waarborge lewer, maar die prokureurs het hom grasie gegee want hy het altyd ‘n lang storie gehad. En so het dit aangegaan.”
Die prysklas van die eiendomme het elk gewissel van R7- to R30 miljoen. Die agent verduidelik die skade wat dít ‘n agent berokken is die petrol en tyd (wat ook geld is) wat verspeel word, sowel as geloofwaardigheid onder kliënte wat in die slag bly. “Gelukkig het die verkopers in dié gevalle ons goed geken, maar dis baie sleg vir besigheidsmense.”
In een geval het mense wat wou emigreer hul huis opgepak want dit was “verkoop”. Die gesin moes hul planne egter heelwat uitgestel toe die koop nie deurgegaan het nie.
Nog ‘n agent vertel hy het vir ongeveer twee maande net vir Dias gewerk, en niks daaruit gekry nie. “Hy het belanggestel in grond sowel as residensiële en besigheidspersele. Hy het aanbiedinge ter waarde van R36 miljoen by my gemaak.
“Dit het my twee maande uit die mark geneem waartydens ek net vir hom gewerk het, want hy het ‘n baie geloofwaardige storie gehad.” Toe die soveelste “verkoop” egter nie realiseer nie, het die agent besef hy is om die bos gelei en die besigheidsverhouding verbreek.
“Die uitwerking op ‘n agent is ernstig, veral op jonger agente. As een van hulle aan so ‘n man haak kan dit sy loopbaan knak as gevolg van die sielkundige uitwerking wat dit kan hê. En natuurlik skaad dit jou geloofwaardigheid in die praktyk.”
Dias het by navraag gesê hy is nou platsak en amper op straat. “Ek vra dat mense my asseblief vergewe. Dit was nie my bedoeling om enige persoon seer te maak nie.”
- Om na eiendomme te kyk wat tans in die area te koop is, kliek hier.
