MBOMBELA – ‘n Bekende boer van die omgewing, mnr. Gerhard Kunneke, word in die intensiewe sorgeenheid van Mediclinic Nelspruit behandel nadat hy gisteraand oorval is op sy plaas in die Kingstonvale-omgewing op die pad na KaNyamazane.
Daar was beurtkrag in die area en die krag het net weer aangekom toe hy na buite is om die kragopwekker af te skakel. Dit was net na 20:00. Hy is toe van agter met ‘n graaf oor die kop geslaan. Volgens mnr. Nico Grobler, operasionele bestuurder van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit, het hy hom teëgesit en is erg aangerand.
Sy vrou, Lynette, was in die huis, maar kon hoor daar was ‘n geskarrel buite. Sy het ondersoek ingestel en het gesien haar man word aangeval. Sy het die deure gesluit en Hi-Tech ontbied. Een van die aanvallers het die badkamervenster gebreek en só toegang tot die huis verkry.
Lynette is ook oorval en buite na haar man geneem waar sy met draad vasgebind is. “Sy is met die graaf deur die gesig geslaan en gedwing om die kluis se sleutels aan hulle (die verdagtes) te oorhandig,” het Grobler vertel.
Die mans het drie vuurwapens uit die kluis gehaal en te voet gevlug met dit, asook twee televisies, ‘n skootrekenaar en die egpaar se selfone. Hi-Tech se beamptes het op die toneel aangekom en gesien die egpaar is erg beseer. Hi-Tech se ambulans is gevolglik ontbied en die Kunneke’s is na die hospitaal geneem.
Lynette is reeds vanoggend ontslaan. “Mnr. Kunneke is by sy positiewe, maar het bloeding op die brein. Hy en sy vrou het gesê dat daar drie verdagtes was wat almal balaklavas gedra het,” het Grobler bygevoeg.
Bossie’s Community Justice en die polisie was ook op die toneel. Mnr. Jacques Meiring, operasionele bestuurder van Bossie’s, het gesê dat hulle ‘n beloning van R50 000 aanbied vir inligting wat sal lei tot die inhegtenisname en suksesvolle vervolging van die verdagtes. Alle inligting sal vertroulik hanteer word. Navrae: 082-567-5212.
