MBOMBELA – Drie mans wat op 22 strafregtelike aanklagte teregstaan nadat hulle na bewering in 2010 drie renosters gestroop het, se aansoek om ontslag is Dinsdag in die Nelspruitse Landdroshof geweier. Die saak teen hulle is tot 12 Mei uitgestel.
Mnre. Daniel Calvyn Dlamini (31), David Moses Mawilela (36) en Sifiso Luphuko (32) is op 15 November 2009 in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) gearresteer. Mnr. Frik Rossouw, senior ondersoekbeampte vir omgewings- en misdaadondersoekeenheid van SANParke, het tydens ‘n vroeëre hofverskyning getuig dat die beskuldigdes daardie dag met twee jaggewere en ammunisie in hul besit betrap is. Die drie beskuldigdes is hiervan aangekla en staan ook tereg op die onwettige betreding van die NKW. Hulle word verder daarvan aangekla dat hulle ses onwettige skote gevuur het om drie renosters te dood. Die beskuldigdes het hierna glo probeer om ses horings van die drie renosters te stroop.
Al drie beskuldiges volstaan by hul onskuld. Volgens die beskuldigdes was daar ‘n deel van die NKW wat aan Matsulu gegrens het wat vir die breë publiek toeganklik was. Hulle beweer ook dat ‘n parkbeampte aan hulle toegang tot die park gegee het sodat hulle daar kon jag. Die drie wou glo gaan jag sodat hulle vleis kon hê om te eet.
Die beskuldigdes se regspan het Woensdag aansoek om ontslag gedoen op grond van ‘n gebrek aan voldoende getuienis teen hulle. Hierdie aansoek is onder andere daarop gebaseer dat Rossouw twee kontrasterende serienommers vir die jaggeweer wat glo in hul besit gevind is, verskaf het. Die landdros, me. Nomaswazi Shabangu, het beslis dat die staat se saak sterk genoeg is dat die verhoor moet voortgaan.
